Pres. Cyril Ramaphosa is jammer dat iemand wat nooit op parool vrygelaat moes gewees het nie, Tazne Van Wyk (8) vermoor het.
Ramaphosa het tydens ’n besoek Dinsdag aan haar ouers hulle om verskoning gevra dat dit gebeur het.
“Tazne is vermoor deur iemand wat nooit op parool vrygelaat moes gewees het nie,” het Ramaphosa gesê.
Hy het, nadat hy Terrence Manuel (31) en Carmen Van Wyk (28) in hul Wendyhuis in Clarestraat, Connaught Estate, Elsiesrivier besoek het, gesê sy besoek sal egter nie die familie en gemeenskap se pyn wegvat nie.
Ramaphosa het gesê geslagsgeweld teen vroue en kinders, waar hulle deur mans verkrag en vermoor word, moet tot ’n einde kom.
Terwyl hy gepraat het, het die skare begin skreeu dat hulle wil hê die doodstraf moet weer ingestel word.
Ramaphosa het belowe dat hy die strafregstelsel laat bekyk om te sien hoe die paroolstelsel herontwerp kan word. “Ons gaan nou vra dat mense wat kinders en vroue verkrag en vermoor, nie op parool vrygelaat word nie,” het Ramaphosa gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdagoggend besoek gebring aan die vermoorde Tazne van Wyk se ouers in Elsiesrivier. Foto: Jaco Marai
Hy het gesê dat Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste sal toesien dat die paroolstelsel herontwerp word “sodat daar nooit weer so ’n situasie sal wees nie.”
Hy meen die regstelsel moet hierop inkoop en moet daar tydens vonnisoplegging gesê word dat sulke oortreders nooit op parool vrygelaat mag word nie.
“Ons is besig om stappe te doen om die strafregstelsel te versterk. Ons wil hê vroue en kinders moet in die posisie wees om op die strafregstelsel te kan staatmaak,” het Ramaphosa gesê.
Hy het ook verwys na klagtes dat die polisie nie hul werk doen nie, en sê hy het die versekering gekry dat die polisie wel onderneem het om die familie by te staan en dat hulle daar is vir die gemeenskappe. “Hulle sal dié ondersoeke na die beste van hul vermoë doen.”
Ramaphosa het gesê die regering gaan Tazne se gesin bystaan en hulle ondersteun terwyl hulle die begrafnisreëlings tref.
Ramaphosa het gesê die gemeenskap self moet egter ook kennis neem van wat misdadigers aanvang wat in die gemeenskappe woon en moet hande vat en optree wanneer hulle van sekere misdaadneigings te hoor.
Dit het ondertussen aan die lig gekom dat Tazne se ouers Dinsdag geweier om te aanvaar dat die erg ontbinde lyk wat verlede Woensdag in ’n stormwaterpyp langs die N1 buite Worcester gevind is, dié van Tazne is, nadat hulle vroeër die dag na Worcester is waar hulle haar lyk by die staatslykhuis wou gaan besigtig.

'n Groot groep mense het byeengekom waar pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag besoek gebring het aan Tazne van Wyk se ouers in Elsiesrivier. Foto: Jaco Marais
Hulle het Dinsdag met die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, Nomafrench Mbombo, en maatskaplike werkers van die departement van maatskaplike ontwikkeling vergader waar hulle onder meer berading ontvang het.
Mbombo het Dinsdag gesê dat vingerafdrukke wel gewys het dat die ontbinde lyk wat gevind is, dié van Tazne is.
Bronne vertroud met die ondersoek het ook gesê dat die liggaam die klere soos in die beskrywing van Tazne se pa, aangehad het.
Tazne het op Vrydag 7 Februarie vanaf ’n snoepwinkel oorkant haar ouerhuis verdwyn. Haar vermeende moordenaar, Moyhdine Pangarker, is verlede Maandag in Cradock in die Oos-Kaap in hegtenis geneem. Hy het die Dinsdag in die landdroshof in Cradock op aanklagte van ontvoering verskyn. Hy het die Woensdag die plek waar haar lyk was, aan die polisie uitgewys.
Pangarker wat op parool uit was, het Vrydag in die landdroshof in Goodwood op aanklagte van ontvoering en moord verskyn.
Die saak is tot 17 April vir verdere ondersoek uitgestel.