Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Redder in rooi motor jaag in spitsverkeer in rower vas
Melissa McGinn wie se lewe deur ’n onbekende motorbestuurder in ’n rooftog gered is. Foto: Facebook

Melissa McGinn (23) het haar baba voor haar geestesoog gesien. Sy het gebid dat hy ’n goeie lewe sal hê, want sy was seker die aanvaller met sy hand op haar kop en die wapen so naby dat sy binne-in die loop kon sien, gaan skiet.

Die volgende oomblik het ’n rooi motor “van iewers” gekom, voluit in die rower vasgery – en toe sit die onbekende bestuurder terug en wag totdat McGinn “ontdooi” en wegry.

“Ek weet nie wat van die aanvaller of my foon geword het nie. Ek weet nie wie die man in die rooi motor was of waar hy vandaan gekom het nie. My wit motor het ’n duik waar die rower se lyf daarteen vasgestamp is, maar geen skrapie verf is af nie. Ook geen rooi verf van die ander motor aan myne nie,” sê McGinn, haar stem bewerig as sy die trauma van Woensdagoggend onthou.

“Ek was in soveel skok, ek sal die bestuurder nie herken as hy verby my loop nie.”

Geen wegkomkans

Sy was alleen in die motor, op pad na haar werk in Johannesburg in die oggendspitsverkeer.

Sy was net verby die Crown-wisselaar, op pad na Grayston-rylaan.

“Ek was in die regterbaan, maar ingehok deur ander voertuie en taxi’s in die noodbaan langs my. Ek het ’n groep mans gesien en besef iets gaan gebeur. Dit het gelyk asof ek, of die motor agter my, die teiken was en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie,” sê sy.

“Ek het my kop laat sak in die hoop dat hulle verby my loop.”

Een man het donderend met sy vuurwapen teen haar motorvenster geslaan en geskree sy moet oopmaak anders skiet hy haar deur die venster.

“Ek het ’n tweejarige seuntjie. Die man kon vat wat hy wou, maar ek moes saamwerk, want my kind het nog sy ma nodig. Toe draai ek die venster af,” verduidelik McGinn.

Die rower het haar kop nader gepluk en haar met die vuurwapen geslaan, terwyl hy skree vir haar foon.

Sy het dit uitgehaal en die aanvaller het dit gegryp.

“Toe druk hy die pistool teen my slaap. Hy het iets gesê. Ek weet nie wat nie of in watter taal nie. Ek was gevries,” sê sy.

“Ek het my kind se gesiggie gesien. Ek weet ek het hardop gesê: ‘Ek is lief vir jou, my baba,’ en gewag vir die skoot.”

Die rooi motor

Die rooi motor het uit die niet verskyn.

McGinn weet nie hoe die bestuurder sy voertuig in die spasietjie aan haar regterkant ingekry het – half-parallel, half-T-vormig met haar kar nie, of genoeg spoed kon opbou om die aanvaller so hard van agter te tref nie.

“Of hoekom die rower se vinger nie om die sneller getrek het van die impak van die stamp nie,” voeg sy by.

McGinn het haar kop laat sak met die slag, bang die rower skiet.

Maar hy was weg.

Ek het na die bestuurder in die rooi motor gekyk. Hy het nie ’n oog geknip nie,” sê sy.

“Ek weet nie of hy geval het nie, wat van hom geword het nie. Ek het na die bestuurder in die rooi motor gekyk. Hy het nie ’n oog geknip nie,” sê sy.

“Ek het my hande biddend saamgevou om dankie te beduie. Hy het geen reaksie getoon nie, my net kalm dopgehou asof hy seker maak ek is veilig.”

McGinn sê sy het toe ontdooi.

“Ek het asof in ‘auto pilot’ begin ry. Ek wou net wegkom.

“En toe ek terugkyk, was die rooi motor weg.”

Donderdagoggend het haar verloofde agter haar aangery werk toe, maar toe iemand nader aan haar motor stap, het sy gevries en in trane uitgebars.

“Die angs van daardie ervaring . . . As dit nie vir daardie man in die rooi motor was nie . . . Ek wil hom net in die oë kyk en sê: ‘Dankie. Sonder jou sou my seuntjie nié vandag ’n mamma gehad het nie.’ ”

Meer oor:  Rowers  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.