Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Reeksmoorde’ in Wolseley: 2de slagoffer uitgeken

Nog ’n familie in Wolseley in die Kaapse Wynlande-distrik in die Wes-Kaap is in rou gedompel nadat hul vermiste familielid Maandag uitgeken is as een van die twee moordslagoffers wie se ontbinde lyke meer as ’n week gelede in vlak grafte in die gebied gevind is.

Miché Pienaar (25), die ma van ’n vierjarige seuntjie, se familie het haar laas op 3 September gesien.

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê sy is aan vingerafdrukke uitgeken.

“Ek kan nie glo my kind is vir ewig van ons weggeneem nie. Ek sal nooit hierdie man kan vergewe vir die rou wat hy ons as familie aangedoen het nie,” sê Francis Pienaar (65), Miché se ma.

Pienaar sê sy is bly dat die onsekerheid uit die weg geruim is en dat sy die tragedie nou kan probeer verwerk.

“Ek het in my binneste geweet dat Miché een van die slagoffers was. As ’n ma het ek net geweet. My hart is gebreek, maar ek probeer sterk wees vir Miché se seuntjie wat nie verstaan hoekom sy ma nie meer kom kuier nie.”

dd
Miché Pienaar en haar seuntjie.

Haar seun Wynand het by sy ouma gebly en háár Mamma genoem, terwyl hy sy ma op haar naam genoem het.

Miché is die tweede slagoffer van die verdagte wat geïdentifiseer is, nadat die lyk van Bernadine Frans (21) op 24 Oktober gekry is toe ’n man op heter daad betrap is waar hy haar lyk gesleep het.

Lees ook: Polisie het dalk reeksmoordenaar in Wolseley beet

’n Dag later het die polisie op die lyke van nog twee vroue in vlak grafte in ’n veld afgekom.

Potelwa sê die polisie wag steeds op DNS-uitslae om die derde slagoffer uit te ken.

Een van die vlak grafte wat in Wolseley ontdek is.

Volgens Miché se ma is hulle drie weke gelede na die plaaslike polisie om haar dogter as vermis aan te meld, maar die polisie wou nie ’n saak open nie omdat die beampte glo vir Miché kort tevore in Pine Valley gesien het.

“Ons is toe maar weer huis toe sonder dat die saak geopen is. Nou weet ons dat sy toe reeds dood was.”

Pienaar sê haar hart het gebreek elke keer as haar foon lui en Wynand wou weet: “Mamma is dit Miché wat bel?”

Volgens haar sing Miché se seun ook die afgelope tyd gesange soos “Daar is geen trane in die hemel nie” en “Ek gaan huis toe na Jesus in die hemel”.

“My hart breek elke keer as ek hom hoor sing. Ek het my berus in wat met my dogter gebeur het. Ek is bly ons weet nou wat gebeur het en dat ons haar uiteindelik kan begrawe. My kind het nie verdien om so wreed van ons weggeruk te word nie. Dit breek my hart dat haar seuntjie haar nooit weer gaan sien nie.”

Wolseley
Die stuk veld waar die polisie twee lyke in Wolseley gekry het.

Volgens Pienaar het die polisie haar ingelig dat die verdagte, Siyamcele Sobambela (32), wat van die moord op drie vroue van die gebied aangekla is, erken hy het Miché reeds op 28 September vermoor en die vrou wie se identiteit nog nie vasgestel is nie, op 5 Oktober.

Lees ook: Beskuldigde in hof ná 3 lyke gekry is

Pienaar beskryf Miché as ’n lewenslustige jong vrou wat almal in die dorp geken het en lief was vir haar seuntjie.

Husery Pedro, Miché se niggie, sê sy sou nooit kon dink dat so iets met hul familie sou gebeur nie.

“Wrede moorde word nie hier by ons gepleeg nie. Sy het nie verdien om so vermoor te word nie.”

Pedro sê hulle het bekommerd geraak toe Miché ewe skielik nie meer plasings op Facebook of WhatsApp gemaak het nie.

“Sy was altyd op sosiale media en toe sy skielik doodstil raak, het ons geweet daar is fout.”

Volgens Pedro beoog die familie om Miché die naweek ter ruste te lê.

Meer oor:  Bernadine Frans  |  Siyamcele Sobambela  |  Wes-Kaap  |  Wolseley  |  Wolseley-Moorde  |  Polisie  |  Reeksmoordenaar  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.