Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Reeksverkragters: Hulle lyk so doodgewoon . . .
So lyk een van die huise in Petrusburg in die Vrystaat waar die kinderverkragter Louis Carstens verskeie meisies tussen die ouderdom van ses en 16 jaar seksueel aangerand en verkrag het. Foto: André Damons

In net één van die land se nege provinsies is daar oor ’n tydperk van drie jaar 13 reeksverkragters gevonnis.

Dié 13, wat gesamentlik minstens 81 vroue en meisies in die Vrystaat verkrag het, is gesamentlik tot 11 lewenslange en ’n verdere 722 jaar tronkstraf gevonnis.

Elkeen van hulle het minstens vyf slagoffers gehad, van wie die jongste net ses jaar oud was.

Maar die werklike syfer kan veel hoër wees omdat na raming tussen 80% en 90% van alle verkragtings nooit aangemeld word nie.

Dit is die eerste in ’n reeks van drie artikels oor verkragters, die mense wat hulle uiteindelik aan die pen laat ry, en hul slagoffers.

KYK HIER NA DIE INTERAKTIEWE GRAFIKA EN KAART 

’n Handgeskrewe stopteken voor Louis Carstens se huurhuis in Petrusburg waar hy verskeie meisies tussen die ouderdom van ses en 16 seksueel aangerand en verkrag het. Foto: André Damons

‘Vroue onder beleg’

Van dié 81 slagoffers was 32 tieners of jonger, 31 was tussen die ouderdom van 20 en 29 jaar terwyl die res se ouderdomme wissel van 30 tot 86 jaar.

Die kinderverkragter Louis Carstens het kos, geld en TV-kyk gebruik om sy ses slagoffers, wat tussen ses en 16 jaar oud was, te lok.

Ander reeksverkragters het hul slagoffers oorval wanneer hulle van die skool of die kerk op pad huis toe was.

Ander, soos Teboho Mohlabane van Petrus Steyn, het by huise ingebreek, vroue met messe gedreig en hulle dan verkrag.

Sello Thomas Khafo van Ficksburg in die Oos-Vrystaat, het sy slagoffers ’n saamrygeleentheid aangebied en hulle dan oorval en verkrag.

Volgens misdaadstatistieke vir die boekjaar 2018-’19 het seksuele misdrywe landwyd met 4,6% (2 312 voorvalle) toegeneem. Altesame 52 420 seksuele misdrywe is aangemeld – 41 583 verkragtings en 7 437 voorvalle van seksuele aanranding. Dit kom daarop neer dat minstens 114 vroue en meisies daagliks in Suid-Afrika verkrag word.

Dit is ’n oorlog teen vroue se liggame, hul waardigheid en hul reg op vryheid, veiligheid en gelykheid.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede jaar in sy toespraak op Vrouedag gesê vroue is onder beleg.

“Dwarsdeur ons samelewing, in dorpe klein en groot, in stede, in huise, skole, kolleges en universiteite, in ons strate, in ons parke en in oop ruimtes, word ’n oorlog teen vroue gevoer.

“Dit is ’n oorlog teen vroue se liggame, hul waardigheid en hul reg op vryheid, veiligheid en gelykheid.

“Op maniere wat sowel subtiel as wreed is, word vroue elke dag blootgestel aan mondelingse, emosionele en fisieke mishandeling.

“In ’n samelewing wat al lank ’n stryd voer teen gendergeweld, het die aanval op die integriteit en die menslikheid van vroue ongekende vlakke bereik,” het Ramaphosa gesê.

Elsabe Kraft, senior aanklaer in die landdroshof in Bloemfontein, wat spesialiseer in seksoortredings, sê slagoffers dra lewenslank ’n las. Sy sê moord is nie menslik nie, maar die slagoffer is dood. “Die familie kry swaar, maar nie die gestorwene nie.”

Met verkragting is jou lyf die misdaadtoneel. “Jy is misbruik, aangerand, alles wat met jou kon gebeur het, het gebeur en jy het dit oorleef.

“Dit is ’n lewenslange ding waarmee jy gaan wroeg. Dit het ook ’n invloed op mense om jou. Ek dink nie daar is iets erger wat met jou kan gebeur as verkragting nie. Dit geld mans en vroue.”

Prof. Robert Peacock, hoof van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement kriminologie, sê die hoë voorkoms van reeksverkragtings maak vroue in Suid-Afrika kwesbaar.

Prof. Robert Peacock, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement van kriminologie. Foto: Verskaf

Hoe lyk ’n reeksverkragter?

Daar is ’n verskil tussen ’n reeksverkragter en iemand wat op die ingewing van die oomblik verkrag. ’n Reeksverkragter verkrag met voorbedagte rade, gebruik meer geweld en beplan wie hy gaan verkrag – gewoonlik iemand wat onbekend is aan hom.

Prof. Dap Louw, ’n forensiese sielkundige verbonde aan die UV, sê daar is nie ’n tipiese sielkundige profiel van ’n verkragter of ’n reeksverkragter nie. Elke mens, en daarom ook elke misdadiger, is uniek.

’n Reeksverkragter is ’n persoon wat drie of meer mense oor ’n tydperk van meer as ’n maand verkrag het, nie iemand wat drie mense op ’n slag verkrag nie, sê Louw. Peacock sê reeksverkragters se optrede hou meer verband met ’n behoefte aan mag eerder as seksuele bevrediging.

Die meeste van die tyd is ons verkeerd, want jy verwag hy moet boos lyk. Die meeste van hulle lyk soos die ouens op straat.

Volgens Peacock is reeksverkragters meestal jonger as 25 jaar oud en het hulle gewoonlik ’n geskiedenis van werkloosheid en interpersoonlike konflik.

“Daar is gevind dat die verkragting van vreemdelinge gewelddadiger is as die verkragting van iemand wat bekend is aan die verkragter,” sê Peacock.

Kraft sê die mens wat weens die misdade in die hof verskyn, verskil gewoonlik van die mens wat in die dossier beskryf word.

“As jy iets lees, skep jy maar ’n prentjie vir jouself van hoe die man gaan lyk. Die meeste van die tyd is ons verkeerd, want jy verwag hy moet boos lyk. Die meeste van hulle lyk soos die ouens op straat.”

As jy iets lees, skep jy maar ’n prentjie vir jouself van hoe die man gaan lyk.
Elsabe Kraft

Sake word nie aangemeld

Volgens Louw word daar wêreldwyd geraam dat tussen 80% en 90% van alle verkragtings nie aangemeld word nie. “Die rede is natuurlik dat vroue skaam is en nie kans sien om in die hof te verskyn en sensitiewe vrae te antwoord nie.”

Daar word algemeen geglo dat verkragting die mees onaangemelde misdaad is, sê Peacock.

Kraft noem verskeie redes waarom sake nie aangemeld word nie.

“Baie kinders word in omstandighede groot waar jy slegs een broodwinner het en dit is die mens wat betrokke is by die misdryf. Die kind weet as hy of sy gaan praat, is die enigste broodwinner weg.”

Die swak ekonomie, werkloosheid en swaarkry speel ook ’n rol, meen sy. Daarby kleef daar ’n stigma aan verkragting omdat die persoon as ’n slagoffer beskou word. Daarom word daar dikwels eerder van survivors as slagoffers gepraat, sê Kraft.

Brig. Mmantsheke Lekhele, Vrystaatse provinsiale hoof van die eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), sê hoe meer bewusmaking gedoen word, hoe meer sake word aangemeld. Slagoffers sal byvoorbeeld sê hulle weet nie wie hulle verkrag het nie, so dit maak nie sin om dit aan te meld nie.

“Ons sê al weet hulle nie wie hulle verkrag het nie, moet hulle moet dit steeds aanmeld. Die DNS sal hom moontlik (met die misdryf) verbind. Al neem dit ook vyf, tien of 15 jaar, ons sal hom kry.”

Prof. Dap Louw, ’n forensiese sielkundige verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Foto: Theo Jeptha

Word genoeg gedoen?

Volgens Louw is verkragting ’n wêreldwye probleem. Hoewel Suid-Afrika goeie wetgewing het, word dit nie toegepas nie. Hy beklemtoon dit is baie moeilik om internasionale vergelykings oor verkragting te tref omdat die juridiese kriteria vir verkragting van land tot land kan verskil.

Hy sê baie meer kan gedoen word om misdaad soos verkragting te bekamp deur beter polisiëring, strawwer vonnisse en die konsekwente toepassing van straf.

Voorkoming moet op die voorgrond staan.

Elsabe Kraft, senior aanklaer in die Bloemfonteinse landdroshof. Sy spesialiseer in seksoortredings. Foto: Facebook

“As jy kyk na die negatiewe omstandighede waarin die meeste kinders in die land grootword, behoort daar volgens die meeste sielkundige teorieë eintlik meer misdaad te wees as wat daar reeds is.

“Ek voel sterk hieroor. Alvorens ons nie die haglike omstandighede waarin ons kinders grootword verander nie, gaan ons nie die stryd teen misdaad wen nie.

“Miljoene mense bly byvoorbeeld in eenvertrekhuisies waar daar geen seksuele privaatheid vir die ouers is nie. Met ander woorde, die kinders word groot in ’n omgewing waar seksualiteit nie vir hulle ’n vreemde verskynsel is nie,” sê Louw.

“Dieselfde geld die geweldkultuur waarin kinders grootword. En dan wil ons weet waarom hulle so is.”

Hy gaan verder: “Ons moet baie versigtig wees om slegs die simptome van misdaad te bekamp en veel eerder kyk na die oorsaak van misdaad.”

Kraft meen daar moet by werkloosheid begin word en ’n plan moet met die jeug gemaak word.

“As jy nie ’n land het met goeie bestuur wat kyk na die maatskaplike probleme en kyk wat ons regtig kan doen om dit te stop nie, gaan dit nie verander nie.

“Die probleem is ongelooflik groot. Wat skokkend is, is dat die klein dorpies se getalle al hoe groter word. Hoekom? Mense is werkloos en alkohol word misbruik. Dit spoel oor na ander dinge. As mense ’n bietjie meer besig gehou word, meer werk en meer geleenthede het, sal dinge beter raak.” 

Genoeg is genoeg

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër vanjaar maatreëls aangekondig om te help in die stryd teen gendergeweld. Dit sluit in:

* 11 nuwe toegewysde howe vir seksuele oortredings sal by die bestaande 92 gevoeg word;

* Die nasionale register met die name van oortreders van gendergeweld sal bygewerk, gemoderniseer en openbaar gemaak word;

* Alle misdade teen vroue en kinders moet swaarder minimum vonnisse hê;

* Alle borgtog- en paroolaansoeke van verkragters en die moordenaars van vroue en kinders sal teengestaan word;

* Meer rehabilitasieprogramme sal in tronke aangebied word en die programme sal hersaamgestel word;

* Alle geslote gendergeweldsake sal hersien word;

* Stelselprobleme soos agterstande in sake, vertragings van DNS-toetse en die beskikbaarheid van bewysstelle vir verkragting in polisiekantore, sal aandag kry; en

* Programme vir die voorkoming van gendergeweld sal ook na skole, gemeenskappe en werkplekke uitgebrei word.

Van die land mees berugte reeksverkragters

* Lonwabo Solontsi (29), wat deur kapt. Mali Govender, ’n polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, as Suid-Afrika se “ergste” reeksverkragter beskryf is, is verlede jaar vir ’n onbepaalde tyd tronk toe gestuur.

News24 het vroeër berig Solontsi het skuld beken op 39 aanklagte van verkragting en verskeie aanklagte van huisbraak met die doel om te verkrag en te roof. Sy slagoffers was tussen 11 en 46 jaar oud.

Hy sal weer oor 25 jaar in die hof verskyn om sy vonnis te hersien.

* In April 2017 is Christiaan Cornelius Julies (47) tot sewe keer lewenslange tronkstraf gevonnis weens verkragting en ’n bykomende 373 jaar tronkstraf weens verkragting, poging tot verkragting en aanranding.

Julies is op 34 van die 36 aanklagte teen hom skuldig bevind. Die verkragtings is tussen Augustus 2011 en Februarie 2015 in Galeshewe, Ritchie, Olifantshoek, Upington, Kathu, Kuruman, Postmasburg, Pampierstad en Mahikeng in Noordwes gepleeg.

* David Mamvura (27) van Zimbabwe, wat ’n skrikbewind in Limpopo gevoer het deur 30 vroue te verkrag en mans met ’n hamer aan te rand, is tot 359 jaar tronkstraf gevonnis, plus ’n bykomende 259 jaar tronkstraf.

Hy is die “hamermonster” genoem toe hy tussen 2012 en 2014 ’n skrikbewind in Polokwane gevoer het.

Mamvura het tereggestaan op 31 aanklagte wat verkragting, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, huisbraak met die doel om te verkrag en roof met verswarende omstandighede, ingesluit het.

Meer oor:  Vrystaat  |  Vroue  |  Reeksverkragters  |  Verkragters  |  Verkragter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.