Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Renoster-stropery: Só is 'baasbrein' afgemaai

Die man teen wie talle sake ondersoek is vir sluikhandel in renosterhoring, is Donderdagmiddag in ’n koeëlreën in Hazyview, Mpumalanga, doodgeskiet.

Petrus Mabuza tydens een van sy hofsake. Foto: Saving The Wild

Petrus Sydney Mabuza (57), wat ook die name Petros en Mshengu gebruik het, was glo die baasbrein van ’n reusesindikaat van renosterstropers in Mpumalanga.

Hy was ook bekend as “Mr. Big” en het verskeie hofsake teen hom, van hulle saam met ’n ander vermeende stropingsbaas, Joseph Nyalunga, oftewel “Big Joe”.

Geeneen van die sake, waarin ook ander beskuldigdes is, is afgehandel nie.

Bronne het Donderdag gesê Mabuza het in sy roesoranje bakkie onder ’n koelteboom aan die uithoek van die parkeerterrein van ’n winkelsentrum gesit toe ’n swart Volkswagen Polo verbyry. Mense het uitspring en op kort afstand op die bakkie losgebrand.

Die bronne voeg by daar is ’n sterk vermoede dat die aanvallers vennote en medebeskuldigdes van Mabuza is wat ná binnegevegte die afgelope maand in die sindikaat teen hom gedraai het.

Ander beweer “Big Joe” was saam met Mabuza in die bakkie, maar hy is ongedeerd ondanks verskeie skote, waarvan die gate in die voertuig getuig.

Petrus Mabuza verlaat die hof in 2018 ná een van sy verskeie hofverskynings. Hy is later weens sy gesondheidsprobleme op borgtog vrygelaat. Foto: Bulelwa Ginindza/Daily Sun

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, sê hulle ondersoek ’n saak van moord en een van poging tot moord nadat ’n bejaarde vrou in die voorval gewond is.

“Die polisie soek na die moordenaars van ’n man wat voorheen op verskeie bewerings wat met renosterstroping verband hou, in hegtenis geneem is en waarvan die sake tans voor die hooggeregshof is.”

Hlathi het bevestig dat Mr. Big in sy Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie buite ’n winkelsentrum gesit het toe drie gewapendes uit die Polo gespring en op hom geskiet het.

“Hulle het gevlug en die oorledene is na ’n hospitaal geneem, waar hy later aan sy beserings dood is,” sê hy.

“In die skietvoorval is ’n bejaarde vrou in haar onderlyf getref. Sy herstel tans in ’n hospitaal.”

Hlathi sê die motief vir die aanval is nog onbekend.

Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris het die voorval veroordeel en gesê “niemand het die reg om ’n ander se lewe te neem nie, maak nie saak wat die rede is nie”.

“Ons hoop mense sal na vore kom met inligting sodat die oortreders vasgetrek kan word.”

Petrus Mabuza se voertuig was aan die bestuurderskant vol koeëlgate.

Die Valke het Mabuza en Nyalunga reeds in 2018 saam met nog ander mense op aanklagte van diefstal, sameswering om ’n misdryf te pleeg, die onwettige handel in renosterhorings, korrupsie en geldwassery vasgetrek.

Die inhegtenisnemings was onder leiding van onder andere lt.kol. Leroy Bruwer, bevelvoerder van die Valke-eenheid in Mbombela (Nelspruit) en een van die Valke se mees prominente ondersoekbeamptes in die stryd teen renosterstropery. Hy is intussen vermoor.

Die beskuldigdes is later op borgtog vrygelaat.

Marietie Louw-Carstens het destyds berig die inhegtenisnemings was deel van die Valke se Projek Broadbill, wat in Januarie 2017 begin is. Dié projek het op renosterstropery in die Krugerwildtuin, KwaZulu-Natal, Gauteng en ander private wildreservate gefokus.

Die vermeende sindikaat was goed georganiseerd en het renosterhorings, wat in sommige gevalle in veilige bewaring was, in die hande gekry en na plekke vervoer waar dit onwettig verkoop en dan glo na Asië gestuur is.

Die gebiede waarin die vermeende sindikaat die renosterhorings gekry het, sluit in voormalige trustgebiede soos Mkhuhlu, Calcutta, Belfast, Cork en Shabalala buite Hazyview in Mpumalanga.

Die Valke het destyds gesê die operasies is “haarfyn beplan en met militêre presisie uitgevoer sodat hulle die polisie lank ontduik het”.

Voordat die verhoor egter kon begin, is Bruwer op 17 Maart 2020 met ’n swaarkalibervuurwapen doodgeskiet.

Die verhoor van Sinovuyo Salela (28), wat van sy moord aangekla word, begin volgende maand.

Talle mense in die natuurbewaringsbedryf en in die polisie vermoed egter dat hy ’n handlanger van Mabuza was.

• “Mr. Big” het ook talle winkels in die Hazyview-omgewing besit wat baie gewild onder mense in die Hazyview-gemeenskap is.

Intussen is renosterbewaringsorganisasies openlik verlig oor die dood van Mabuza en van die mense sê daar is dalk nou “ ’n effense ligpunt” in die stryd teen stropers.

Isaac Phaahla, kommunikasiebestuurder van die Krugerwildtuin, sê hulle is geskok oor die nuus van die moord.

“Ons het gretig gewag op sy verhoor in verband met renosterstropings sodat geregtigheid kon geskied.”

Meer oor:  Hazyview  |  Mpumalanga  |  Renosterstropery  |  Sluikhandel  |  Sindikaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.