Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Richmond spoor gesteelde fietse tjoef-tjaf op

Die hele Richmond, ’n piepklein Karoodorp, het ingespring en ’n Pretoriase egpaar se gesteelde fietse binne ’n uur teruggekry.

Antoinette Basson (49) en haar man, Johannes (53), het Vrydagaand in Richmond oorgeslaap op hul pad na Yzerfontein aan die Kaapse Weskus.

“Dis die ongelooflikste dorpie. Ons het lekker gaan uiteet en toe ons die volgende oggend by ons gastehuis wakker word, was ons fietse weg.”

Die twee polisiebeamptes in Richmond wat die Bassons se fietse opgespoor het. Foto: Verskaf

Volgens haar is hul fietse gesamentlik omtrent R80 000 werd.

“Ons het 07:10 ons fietse by die dorp se polisiekantoor as gesteel aangemeld. Almal het almal laat weet en woeps-waps is ons fietse teruggekry.”

Teen 08:00 is die verdagtes in hegtenis geneem. Antoinette skat hulle is in hul twintigerjare.

Sy sê teen 08:20 was “alles afgehandel” en het hulle die laaste ent Yzerfontein toe aangepak.

“Ons hele vakansie gaan oor die fietsrit van Yzerfontein na Velddrif. Nou gaan ons lekker vakansie kan hou.”

Hulle sal enigiemand aanraai om by Richmond, ’n “ongekende skat van Afrika”, ’n draai te maak.

Antoinette Basson saam met die twee polisiebeamptes vroeg Saterdagoggend. Foto: Verskaf

“Johannes ry al ’n hele paar jaar en ek het my eerste fietstoer in 2014 saam met hom onderneem toe ons die Portugese gedeelte van die Camino de Santiago afgelê het.”

Die egpaar het verlede jaar ook ’n tien dae lange fietstoer in die Overberg onderneem.

Antoinette sê sy en haar man sien so uit om met hul fietse die 250 km van Yzerfontein na Velddrif oor ses dae af te lê.

Hulle gaan van Yzerfontein na Langebaan ry, die volgende dag na Jacobsbaai, dan van Jacobsbaai na St. Helena en van daar na Velddrif.

“Dis verskriklik lekker. My man sleep ’n waentjie agter sy fiets met ons tent, wat ons dan elke aand opslaan.”

Johannes het ’n gedig, “Richmond”, geskryf om hul nag daar te onthou:

Iewers tussen Pretoria en die Kaap

Is daar die mooiste dorpie Richmond

waar jy moet stop en kyk of jy kan oorslaap.

Ek sit onder die mooiste druiweprieel,

die liggies brand met gister se musiek wat

speel,

Hier in Richmond in die groot Karoo.

Dis mooi, dis lekker, dis ’n onbekende deel van Afrika.

Almal ry hier verby en dink dis gevrek, maar as jy stop, al is dit net om jou bene te strek –

kom kyk na Richmond ’n ongekende skat van Afrika.

Hier praat ons Afrikaans,

Die mooiste Afrikaans,

Ons luistertaal, ons fluistertaal,

Ons lagtaal, ons treurtaal, die een met ’n uitgesproke verhaal.

Hier in Richmond onder die mooiste druiweprieel,

waar gister se musiek saggies in jou ore rondspeel,

Die dorpie tussen Pretoria en die Kaap,

kyk of jy tyd kan maak om oor te slaap.

Johannes Basson se is fiets weer agterop hul voertuig voordat hulle van Richmond na Yzerfontein vertrek.Foto: Verskaf
Antoinette Basson saam met ’n polisiesersant in Richmond by haar fiets Foto: Verskaf
Johannes Basson saam met die polisiesersant waar hy die diefstalsaak in Richmond aanhangig gemaak het.Foto: Verskaf
Johannes Basson tydens ’n ander fietstoer met die waentjie met sy en sy vrou, Antoinette, se tent agterop.Foto: Verskaf
’n Collage van die Bassons se foto’s in Richmond. Foto: Verskaf
Die druiweprieel waaronder die Bassons in Richmond geëet het.Foto: Verskaf

Meer oor:  Richmond  |  Gemeenskap  |  Polisie  |  Gesteel  |  Gedigte  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.