Die polisie ondervra ’n 38-jarige man in verband met die moord op ’n 85-jarige vrou van Riviersonderend.
Die vrou se lyk is Woensdag omstreeks 21:30 deur die polisie in haar huis in Hoopstraat gevind. Volgens lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, is die motief vermoedelik roof, aangesien haar juweliersware gesteel is.
Die vrou is op Facebook geïdentifiseer as Rienie Verster. ’n Vrou wat Verster goed geken het, maar anoniem wou bly, sê sy het op haar eie gewoon.
“Sy was die mooiste mens. Sy was daardie mens wat altyd jou dag maak. Sy het altyd ’n troetelnaampie vir jou gehad, soos hartjie of blommie. Ek ken haar sedert 2011 en nog nie een keer was sy lelik of moeilik nie,” sê die vrou.
“Sy’t niks van hierdie vieslike vuil daad wat gepleeg is, verdien nie. Niemand verdien dit nie. Ek gaan haar baie mis, my hart is so seer.”
Iemand anders skryf op Facebook: “Tannie Verster was ’n pragtige mens, ek sal haar vriendelikheid altyd onthou.”
Die omstandighede waaronder sy dood is, is nog nie bekend nie. Verster se dogter, ’n onderwyseres aan die Hoërskool Riviersonderend, en haar man woon glo ook op die dorp.