Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rohde se minnares dalk van minagting aangekla

Jason Rohde se voormalige minnares, Jolene Alterskye, kan moontlik van minagting van die hof aangekla word.

Jolene Alterskye
Jolene Alterskye, Jason Rohde se voormalige minnares. Foto: Facebook

Regter John Hlophe, regterpresident van die hooggeregshof in die Wes-Kaap, het na verneem word ’n versoek aan adv. Rodney de Kock, Wes-Kaapse hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), gerig en gevra dat Alterskye strafregtelik ondersoek en van minagting van die hof aangekla word.

Dit kom kort nadat Rohde (50) in November in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind is aan die moord op sy vrou, Susan, in 2016. Hy is 18 jaar tronkstraf opgelê vir moord en nog vyf jaar weens regsverydeling en dien tronkstraf van effektief 20 jaar uit.

In die dae nadat Rohde gevonnis is, het Alterskye op die polisie se Facebook-blad uitgevaar teenoor die verhoorregter, regter Gayaat Salie-Hlophe, asook die ondersoekbeamptes, sers. Marlon Appollis en sers. Stephen Adams van Stellenbosch.

Die regterpresident is Salie-Hlophe se man.

Alterskye het onder meer geskryf dat “die staat en die regter wat haar betref in dieselfde span is en as die staat wederregtelik kan optree wanneer hy onwettig eiendomme deursoek en staatsgetuies omkoop, wat meer het hulle nie gefabriseer om hul Kersfeesbonus te kry nie?

“ ’n Korrupte land begin by ’n korrupte polisie en ek hoop dat die waarheid onthul sal word sodat geregtigheid werklik kan seëvier.”

Alterskye het die inskrywing verwyder nadat mense daarop kommentaar gelewer het.

Sy het verder beweer dat sy Appollis en Adams met whiskey moes omkoop om haar eiendom, ’n selfoon en rekenaar, waarop die polisie glo onwettig beslag gelê het, terug te kry.

Luidens haar skrywe “is om omgekoop te word die enigste taal wat dié twee ken”.

jason rohde
Jason Rohde tydens een van sy laaste verskynings in die hooggeregshof in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Kort nadat sy die inskrywing gemaak en dit toe verwyder het, het sy deur middel van William Booth, haar prokureur, vir die NVG en Salie-Hlophe in ’n skrywe om verskoning gevra.

Sy het in haar verskoning gesê dat sy sedert Rohde se inhegtenisneming, regdeur sy verhoor en selfs ná sy vonnisoplegging onder erge openbare en mediadruk was.

Sy skryf sy het nie rasioneel gedink het toe sy die inskrywing gedoen het nie. Haar persoonlike lewe, insluitend haar familie- en werkslewe het daaronder gely.

Alterskye het ook geskryf sy het nie gedink dat haar inskrywing soveel reaksie sou ontlok nie.

“Wanneer ek terugkyk, besef ek my optrede was onaanvaarbaar en dat ek net nederig om verskoning kan vra aan diegene wat deur my inskrywing geraak is. Ek respekteer die regsproses en die hof.”

Navrae is aan die NVG en die polisie gerig, maar niemand het nog daarop gereageer nie.

Alterskye het by navraag gesê sy weet nie van so ’n ondersoek nie. Sy het toe navrae na Booth verwys. Booth ondergaan volgens sy kantoor mediese behandeling en sal ’n dag of twee nie beskikbaar wees nie.

Meer oor:  Jason Rohde  |  Jolene Alterskye  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.