Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Roofbende verken glo steeds veearts-praktyke

Die groep wat verbind word met die moord op ’n Pretoriase veearts, sowel as ’n rooftog in Boksburg, het tot so onlangs as Dinsdag nog veeartspraktyke “verken”.

Die vermeende vrouelid van ’n sindikaat wat veeartspraktyke en kleinsakeondernemings teiken. Foto: Skermgreep

Terwyl die net om die groep – wie se “leierskorps” bestaan uit ’n vrou en drie mans – stywer span sedert fotoprofiele en beeldmateriaal wat verlede week tydens ’n rooftog van hulle geneem is, uitgereik is, het ’n veeartspraktyk aan die Oos-Rand alarm gemaak oor ’n verdagte voertuig, sonder nommerplate, met ’n vrou en drie mans daarin. Die voertuig het heen en weer voor die praktyk gery en foto’s geneem.

Die polisie en die private ondersoeker Mike Bolhuis is onmiddellik daaroor ingelig. “Ons span het dadelik na die verdagte voertuig gaan soek,” sê Bolhuis.

Luidens inligting teiken die verdagtes sedert die moord op dr. Freddie Malan in Januarie steeds veeartspraktyke en kleinsakeondernemings.

“Ons het te danke aan oorweldigende inligting van die publiek, hierdie groep nou al met meer as 22 voorvalle verbind. Almal met dieselfde modus operandi as toe dr. Malan vermoor is,” sê Bolhuis.

Malan (57) is op 31 Januarie doodgeskiet nadat die deur van sy veeartspraktyk vir ’n goed versorgde vrou oopgemaak is.

Sy het eers alleen ingestap, navraag oor behandeling vir ’n “troeteldier” gedoen, uitgestap onder die voorwendsel dat sy die “dier” gaan haal, en toe gewapende mans laat inkom.

Malan is geskiet toe hy die een rower probeer keer het.

Sy familie het Bolhuis gevra om te help met die ondersoek.

Die vrou wat glo as “afleiding” gebruik word sodat haar makkers by plekke kan inglip. Foto: Skermgreep

Toe, verlede week Woensdag, slaan die verdagtes op ’n pakhuis in Boksburg toe en laai bokse vol Ferrero Rocher-sjokolade in vragmotors wat hulle daar aangebring het.

Volgens beeldmateriaal van ’n veiligheidskamera het die vrou weer eens doodluiters met die personeel gesels voordat sy en een van haar medepligtiges vuurwapens uitgehaal het.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het kort daarna gesê in dié voorval was daar sowat 16 verdagtes. Die werknemers en wagte is aangehou terwyl die rowers die twee vragmotors nader gebring en gelaai het.

Die werknemers en wagte is ook van hul persoonlike besittings beroof.

Dit was juis dié beeldmateriaal wat vorige slagoffers laat regop sit het toe hulle glo die vrou herken.

Specialised Security Services se forensiese deskundige, wat ook spesialiseer in gesigsherstrukturering, het dit vergelyk met foto’s en ID-samestellings van die vrou betrokke by dr. Malan se moord en ander voorvalle.

Daar was glo “oorweldigend baie ooreenstemming”.

Bolhuis sê hulle het letterlik honderde oproepe ontvang van mense wat inligting oor dié misdadige groep kon gee.

“Dit blyk dat dr. Malan sover die enigste geval is waar iemand vermoor is, terwyl verlede week se voorval in Jetpark die eerste groot rooftog was.

“Dit wys dat die groep gevaarlik is, nie huiwer om geweld te gebruik nie en vermoedelik in ledetal groei,” sê hy.

Gesigsamestellings van die verdagtes.

Van die inligting wat verskaf is, sluit in dat die vrou, wat “ ’n redelike groot rol” in die sindikaat speel, in haar vroeë 30’s is.

Hoewel sy en die drie mans deel van die “leierskorps” is, blyk dit dat die sindikaat “groei” soos wat ekstra hande benodig word.

“Hulle teiken meestal veeartse en kleinsakeondernemings in Pretoria, Johannesburg, Roodepoort, Boksburg en Benoni, plekke wat ’n deur vir ’n “voornemende kliënt” moet oopmaak. Hulle roof selfone, skootrekenaars, juweliersware en die beskikbare geld – dinge wat ‘te klein’ is om die polisie se aandag te trek en wat vinnig verkoop kan word.

“Die sjokolade-rooftog was groter as hul ander rooftogte, wat daarop dui dat daar ’n ‘bestelling’ was, iets wat vir die sluikhandel bedoel is,” sê Bolhuis.

Die sjokolade-rooftog was groter as hul ander rooftogte, wat daarop dui dat daar ’n ‘bestelling’ was, iets wat vir die sluikhandel bedoel is.
Bolhuis

Masondo sê senior speurders ondersoek die moontlikheid dat die verdagtes met ander voorvalle verbind kan word, “veral waar die modus operandi dieselfde is”.

Hy sê niemand is al in hegtenis geneem nie.

* Bolhuis maan mense om onmiddellik alarm te maak as hulle ’n verdagte voertuig sien wat heen en weer verby ’n onderneming ry.

Mense met inligting kan hul naaste polisiekantoor of StopMisdaad bel by 08600 10111, of vir Bolhuis by 082 447 6116, en sy ondersoekers Werner Koekemoer by 082 820 3680 en Tony Naidoo by 082 076 7574.

Meer oor:  Mike Bolhuis  |  Boksburg  |  Oos-Rand  |  Pretoria  |  Moord  |  Veearts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.