Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rooftog in Pta-winkel: ‘Toe skiet hulle die oom in die kop’

“Oom Leon”* (61) was Donderdag glo net op pad uit die rekenaarwinkel in Pretoria waar hy ’n gereelde klant is, toe drie gewapende rowers daar instorm.

Bosse blomme is Vrydag teen die hek van die rekenaarwinkel aangebring nadat een klant vermoor en die eienaar en ’n ander klant gewond is. Foto: Felix Dlangamandla

Sommige sê die een aanvaller het “die oom” probeer terugdruk by die winkel in. Ander het gehoor hy het probeer koes en hom teen die gewapende mans teëgesit.

“Toe skiet die een die oom in die kop. Sommer met die intrapslag,” sê Andries Opperman van AfriForum Oos-Moot se buurtwag.

Minute later is die eienaar van die winkel, Coert Oberholzer (54), ook van agter geskiet. Kobus Botha (50), nog ’n jare lange klant van die winkel, Compuport Computers in Queenswood, Pretoria, is in die arm gewond.

Hulle albei moes Donderdagaand operasies ondergaan.

“Die koeël wat Coert getref het, het onderdeur sy ribbekas getrek. Hulle moes hom gisteraand opereer omdat ’n stukkie daarvan nog in hom vasgesit het,” het Jana Reyneke, familievriendin, Vrydag gesê.

Sy sê Oberholzer en Botha is nog onder sterk verdowing, so die inligting is nog maar skraps.

“Almal is so getraumatiseerd . . . hulle en hul families het ’n moeilike aand agter die blad. Maar ten minste is die twee mans stabiel,” sê sy.

Sy sê Oberholzer en sy vrou, Isabel (54), woon al jare in die Pretoriase Moot waar hulle baie goeie verhoudings met hul mede-inwoners en hul klante het.

“Coert en Isabel se werknemers en klante is soos ’n klein familie, so die aanval, beserings, trauma, en veral die 61-jarige oom se dood, ruk hulle,” sê sy.

Die vooraansig van die winkel waar die skietery plaasgevind het. Foto: Felix Dlangamandla
’n Veiligheidsbeampte hou ’n ogie terwyl mense in die winkel opruim. Foto: Felix Dlangamandla

Reyneke voeg by dat die Oberholzers tans, uit respek vir die ouer man wat ’n “jare lange vriend en klant was”, nie nou met die media oor hom wil praat nie.

“Hulle harte gaan uit na sy familie en elke liewe mens wat hierdeur geraak is,” sê sy.

Die aanval het net voor 13:00 gebeur. Volgens die polisie was daar benewens die aanvallers 11 mense in die winkel.

Oberholzer het, aldus die polisie, die rumoer gehoor en met sy eie vuurwapen uit sy kantoor gekom. ’n Skoot het geklap en ’n oor-en-weer-skietery het ontstaan. Oberholzer het een aanvaller doodgeskiet. Hyself is gewond en Botha is ook raakgeskiet.

Die ander rower, wat naby die deur en Leon se lyk gestaan het, het weggehardloop.

Kobus Botha word deur nooddienste behandel nadat hy in die rooftog en moord in die arm geskiet is.
Die toneel in die winkel waar ’n klant vermoor is, die eienaar en ’n ander klant gewond is en een rower gedood en ’n tweede gevang is.

Klante en personeel het die derde verdagte aangekeer.

Reyneke sê die polisie, veiligheidspersoneel en nooddienste was blitsvinnig op die toneel.

“Die polisie het ook die beeldmateriaal van die veiligheidskameras geneem. Jy kan die hele voorval daarop sien. Die klante en personeel bly kalm. Die verdagte wat naby die deur en die oorlede oom staan, lyk senuagtig en is konstant op sy foon. Toe die skote binne klap, toe vlug hy,” sê sy.

Opperman, van AfriForum, sê twee van hul lede het dadelik nadergehardloop toe hulle die skote en noodroepe oor die gemeenskapsradio’s hoor.

“Dit klink vir my, volgens ons voorlopige inligting, dat daar ’n klein oorlog in die winkel was,” sê hy.

“Met ons lede se aankoms het die een verdagte reeds gevlug en almal het óf na die man help soek, óf op die toneel mense bygestaan. Almal is geskok en gewalg.”

Die Lifeline- mediese diens het Botha en Oberholzer op die toneel behandel voordat hulle hospitaal toe geneem is.

Polisiespeurders en forensiese lede het Donderdag die moord- en rooftoneel vir leidrade gefynkam.

“Gelukkig was nie een van die pasiënte in daardie stadium kritiek nie,” sê Mariska Möller, woordvoerder van Lifeline.

Shawn Herbst van Netcare 911 sê hul paramedici het die vermoorde klant en die een aanvaller op die toneel dood verklaar.

Die verdagte het geen vorm van identifikasie aan hom gehad nie, maar is so in sy vroeë 40’s, word daar geskat.

Die een wat in hegtenis geneem is, is in sy middel 30’s, sê Herbst.

Teen Donderdagaand het die winkel op hul Facebook-blad laat weet hulle sal tot minstens Maandag gesluit wees.

“Ons is in ’n toestand van skok en weet talle van julle probeer ons kontak. Ons waardeer dit. Ons opregte meelewing aan almal wat hierdeur geraak is. Ons span en klante wat daar was, is getraumatiseerd deur die gebeure,” lui die verduideliking.

By die hek na die perseel is twee bosse blomme aan die veiligheidshekke vasgemaak.

Binne was mense, wat op die oog af verwese gelyk het, besig om die winkel skoon te maak. Die polisie het reeds die vorige aand hul ondersoek op die toneel voltooi.

* Leon se van is in hierdie stadium onbekend en sy familie nie beskikbaar vir kommentaar nie.

* Daar word steeds na die vermiste rower gesoek, terwyl sy vermeende makker binnekort in die hof sal verskyn.

Meer oor:  Oom Leon  |  Pretoria  |  Winkel  |  Skietery  |  Skiet  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.