Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rower dood, nog 1 gewond in skietery by Sassa-betaalpunt

’n Rower is Donderdagoggend in Marquard in die Vrystaat doodgeskiet en nog een ernstig gewond toe ’n groep rowers wagte wat betalings van die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) kom aflaai, beroof het.

Die rowers het glo voor die aanval ook ’n 80-jarige oudpolisieman gekaap, ontvoer en hom toe doodgeskiet. Hulle het vermoedelik sy groen Mercedes-Benz in die rooftog gebruik, het Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity-groep, in ’n verklaring gesê.

Een van dié maatskappy se wagte is in die been gewond en die vermoede bestaan dat al vier rowers wat gevlug het, beseer is.

Die voorval was omstreeks 08:30 by ’n gemeenskapsaal naby die Marquard-polisiekantoor, waar mense hul Sassa-uitbetalings sou ontvang.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ses mans het die wagte in ’n wit Volkswagen Golf GTi tot by die betaalpunt gevolg. Die wagte is daar beroof en die geld is uit hul voertuig gehaal.

“Polisiebeamptes in die aanklagkantoor het mense gehoor skree en is dadelik soontoe. Die rowers het op die beamptes losgebrand.

“Die lede het teruggeskiet en een van die rowers is dood en nog een is in ’n kritieke toestand,” sê Makhele.

Hulle vermoed die ander vier mense wat weggekom het, is ook gewond.

Die polisie het beslag gelê op ’n R5-aanvalsgeweer en twee pistole.

Geen polisiebeampte is in die skietery gewond nie.

Bartmann het gesê hul veiligheidswagte het die rower doodgeskiet en nog een gewond.

Volgens hom het die rowers nie net in die wit Golf gery nie, maar ook in ’n groen Mercedes-Benz. Dit het later geblyk dat die Mercedes gekaap is.

Volgens hom was vier van hul wagte op die toneel en die bestuurder van die geldwa het eerste die verdagte voertuie gewaar. Hy het dadelik die geldwa gesluit en versterking van die polisie ingeroep.

Bartmann sê die gewonde wag is in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

“Die ander rowers het met ’n klein bedrag geld weggekom.

“Ons werk nou saam met die polisie om die ander vier verdagtes aan te keer,” sê hy.

Meer oor:  Vrystaat  |  Marquard  |  Rooftog  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.