Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rower druk vuurwapen teen swanger vrou se maag

’n Swanger vrou is met ’n vuurwapen teen haar maag gedreig, en nog ’n vrou se ring is byna deur ’n rower van haar vinger afgebyt toe drie vroue Vrydagoggend oorval is toe hulle naby Hurlingham in Johannesburg gaan draf het.

André Snyman, stigter van eBlockwatch, ’n organisasie wat misdaad bekamp, sê by navraag die een rower het ’n vuurwapen gehad en die ander ’n mes.

Inligting oor die voorval het ook op eBlockwatch se Facebook-blad verskyn.

Volgens Snyman het die drie jong vroue, onder wie ’n swanger vrou, langs die rivier naby Hurlingham gedraf toe hulle aangeval is. Een rower het ’n vuurwapen teen die swanger vrou se maag gedruk en waardevolle items by die vroue geëis. Die rowers het onder meer horlosies en ringe gebuit. Die een rower het probeer om ’n ring van ’n vrou se vinger af te byt. Die rowers het met hul buit gevlug.

Die vroue het hulp gaan soek verder langs die roete af, en gevra of ander mense dalk ’n selfoon byderhand het. Volgens Snyman het die mense egter nie ’n selfoon by hulle gehad nie omdat hulle self al vantevore van hul selfoon beroof is. Alarm is egter gemaak en die vroue het hulp gekry.

Volgens Snyman is die rowers vermoedelik afkomstig van ’n nabygeleë plakkerskamp. Die gebied is ’n brandpunt, sê hy. Meer as 200 mense is al in verskeie voorvalle met vuurwapens aangehou en beroof, en voorvalle waar motors se venters stukkend geslaan en items gesteel word, het al voorgekom.

Verskillende groepe is ook oënskynlik in ’n onderlinge stryd gewikkel. Verlede jaar is die lyk van ’n man in die rivier gekry en daar is onder meer op ’n rots geskryf “gaan terug na Lesotho”.

Snyman sê hy wil misdaad soos dié in die gebied hokslaan en het mense gevra om betrokke te raak. ’n Ingrypingseenheid van die Fidelity-veiligheidsmaatskappy help hiermee.

Sover bekend is niemand in hegtenis geneem nie. Die polisie het nie dadelik op navrae gereageer nie.

Mense kan eBlockwatch hier volg. Die organisasie het meer as 100 000 lede volgens die webtuiste. 

Meer oor:  Johannesburg  |  Swanger Vrou  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.