’n Rower is doodgeskiet kort nadat hy en nog drie mans Vrydagoggend twee mense op ’n parkeerterrein by ’n winkelsentrum in Rustenburg beroof het.
Kol. Adele Myburgh, woordvoerder van die polisie in Noordwes, sê die vier aanvallers het om 09:15 ’n vrou wat pas haar voertuig geparkeer het, oorval en haar vasgehou terwyl hulle haar motor deursoek het.
Die vrou se goue armbande en motorsleutels is gesteel.
Kort daarna het ’n man uit die poskantoor by die winkelkompleks gekom en hy is deur vermoedelik dieselfde vier mans oorrompel en met ’n mes aangehou.
Hulle het die man se selfoon en kontant gebuit.
Die man was gewapen en het op die grond neergeval, waarna hy op die aanvallers geskiet het. Een is in die been gewond en is dood. Die ander drie het gevlug.
Die polisie ondersoek twee klagte van roof en een van moord.
’n Vrou is ook in die voorval beseer toe sy in ’n winkel geskuil en haar arm beseer het.
Paramedici van ER24 het bevestig die man wat geskiet is, is ’n ent weg van die winkelsentrum gekry. Daar was niks wat gedoen kon word om sy lewe te red nie en hy is op die toneel dood verklaar.
Die beseerde vrou is op die toneel behandel en na ’n hospitaal gebring.