Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rower skiet man se testes af

’n Overbergse werktuigkundigesê sy testikels is stukkend geskiet toe hy en ’n inbreker om besit van ’n vuurwapen gestoei het en ’n skoot skielik afgegaan het.

Annelise en MC Fletcher van die Overberg vertel hoe ’n koeël sy testikels getref het in ’n gestoei met ’n inbreker. Foto: Edrea du Toit

Murandi (MC) Fletcher sê volgens dokters is hy ná die voorval onvrugbaar, maar hy is ten minste bly die “groot meneer is gelukkig intact”.

MC het egter, benewens die knaende pyn in sy kroonjuwele, ’n ander bekommernis.

Hy en sy vrou, Annelise, moes die afgelope week vir die vale gerugte in die vrugbare Elgin-vallei én in ’n poniekoerant in die kiem smoor dat Annelise hom eintlik sou geskiet het oor “stoutigheid”.

Die twee het die afgelope Vrydag in hul houthuis langs die Viljoenshooppad in kleur en geur vertel wat verlede Sondagaand “régtig gebeur het”.

MC is ’n voormalige veiligheidswag. Hy sê ’n koeël het sy nek in 2003 tydens ’n rooftog in die Vrystaat deurboor.

‘Ek was ’n paar paraffiene voor . . . Brandewyn.’

Hy wys die letsels, sê hy is nooit ná die voorval vir die trauma behandel nie en dat hy sedertdien aan posttraumatiese stres ly.

Terwyl hy gesels, soek hy versigtig in sy broeksak na sy sigarette.

Hy steek ’n Benson & Hedges Light op en stap op en af in die beknopte, halfverligte vertrek met sy groot vistenk, memorabilia en voëlkou met parkiete.

Annelise vertel solank verder oor wat Sondagaand so skuins voor 20:00 gebeur het. Dit het die aand gereën.

“Buite die huis was ’n boerboel en ’n rottweiler op patrol. In die huis was die twee huishonde en ses katte,” sê sy.

“Ons het nog vir een kat gewag, daarom was die skuifdeur oop.”

Sy en haar 13-jarige dogter, met oorfone op, was in ’n kamer. MC se boekhouer, wat in ’n agterkamer woon, was in die stort. “Hy (MC) het hier by die kombuis gestaan,” vertel Annelise.

“Ek was ’n paar paraffiene voor,” merk MC op. “Brandewyn,” verduidelik hy. “Alle ligte was af, behalwe die TV.”

Volgens Annelise het sy “iets” gehoor.

“Ek dink toe wat de f*k gaan aan! Dis seker MC wat met die windbuks rotte skiet.”

MC suig nou éérs aan die sigaret.

Annelise sê toe sy by die voorkamer inkom, staan MC daar. “Hy sê toe net: ‘Hier was iemand.’ Ek sê toe nog: ‘Moenie met my k*k praat nie! Toe ek afkyk, sien ek bloed kom by sy kortbroek se pyp uit. Hy was nie eens bewus daarvan dat hy bloei nie.

“Hy sê toe: ‘Die ou het ’n swart mus opgehad, met gate vir die oë uitgesny. Hy het brand tekkies aangehad, met sulkeluminous strepe. Hy is uit, klap die deur toe.’ ”

Nou val MC weer in om die gebeure verder te skets.

“Ek het hom net so gekyk. Toe gryp ek sy hand, druk dit afwaarts. Toe gaan die skoot af.”

Annelise sê haar man “is in die balsakke getref, die koeël het die groot meneer net-net gemis”.

Hulle het toe ’n “dametjie” wat hulle ken wat ’n sielkundige is gebel, wat die polisie ontbied het. MC is per ambulans na die Worcester-hospitaal geneem.

Die polisie kon agterna glo nie die koeël in die huis opspoor nie.

“Die dokters het die koeël uitgehaal,” sê MC, met so ’n spoggerige klank in die stem.

“Hulle sê ek kan nie meer kinders maak nie. Hulle sê ook my stem gaan nog verander, my baard gaan verander . . .

“Ek gaan ook depro raak. Dis nou nie iets nuuts vir my nie. Ná die eerste skietery in 2003 is ek nie bang nie. Vir niks en niemand nie.”

Annelise sê sy is “baie vies” oor die gerugte dat sy glo haar man sou geskiet het.

“Hier vertel ons julle nou self. Ons wil regsadvies inwin,” sê sy.

MC sê niks verder nie, trek net behaaglik aan sy bokbaardjie.

Mihlali Majikela, ’n polisiewoordvoerder, sê ’n klagte van poging tot moord word ondersoek. “Omstandighede rakende die voorval word steeds ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Majikela.

Meer oor:  Murandi Fletcher  |  Mc Fletcher  |  Skietvoorval  |  Roof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.