Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvaller stort ineen nadat egpaar verbete terugveg

Tony en Elsabé Potgieter.
Elsabé Potgieter ná die onderonsie met die vermeende rower. Foto: Verskaf
Tony Potgieter in die hospitaal terwyl die wonde aan sy kop met steke geheg word.

’n Egpaar van Drie Riviere in Vereeniging het so verbete teen ’n aanvaller geveg dat hy gevlug en bloeiend naby hul huis inmekaar gesak het.

Die aanvaller, wat nie daarin kon slaag om enigiets te steel nie, is na ’n hospitaal gebring en daar in hegtenis geneem.

Elsabé (53) en Tony Potgieter (61) het egter vroeg Saterdagoggend ook nie lig afgekom van die stryd tussen hulle in hul huis in Drie Riviere nie.

Sy het so gebewe dat sy nie die (pistool se) veiligheidsmeganisme kon afsit nie.

Die aanvaller het hulle op verskeie plekke stukkend gebyt en met die egpaar se pistool geslaan, vermoedelik omdat die veiligheidsmeganisme aan was en hy nie kon skiet nie. Elsabé en Tony het albei bytplekke aan hul arms en hande, en Elsabé ook in haar nek. Die egpaar moes albei steke in hul kop kry waar die rower hulle met hul eie pistool geslaan het nadat hy dit by hulle afgeneem het.

Melissa Lubbe, die Potgieters se dogter, het Saterdagmiddag gesê haar ma se een pinkie is byna afgebyt en hulle wag in spanning om te hoor of sy die vinger gaan verloor of nie.

Die egpaar is in die Midvaal Private Hospitaal in Drie Riviere opgeneem.

Die vermeende rower nadat hy bloeiend inmekaar gesak het.

Lubbe sê haar pa het Saterdagoggend omstreeks 05:00 wakker geword toe hul hondjies, wat in die huis slaap, begin blaf.

“Hy het die kamerdeur oopgemaak om ligte in die huis aan te sit sodat hy die hondjies kon uitvat. Toe staan die man daar.”

Potgieter het geskree en met hom begin stoei. Intussen het Elsabé hul pistool in die kamer gegryp, maar sy het so gebewe dat sy nie die veiligheidsmeganisme kon afsit nie. Sy en Potgieter het saam-saam met die aanvaller gestoei tot in die kombuis. In die proses het Potgieter hom met onder meer ’n marmertafel en ’n stoel toegetakel. Elsabé het om in die kombuis verskeie kere met ’n koppie oor die kop bygedam.

“Hy het geval, maar weer opgestaan en aanhou terugbaklei,” sê Lubbe.

Potgieter het intussen na die kombuisdeur beweeg om dit oop te maak en ’n buitelig aan te sit om sy ander dogter en skoonseun se aandag te trek. Marike en Quintus Ettlinger woon in ’n tuinwoonstel op die Potgieters se erf. Die aanvaller het laat spaander en oor ’n muur gespring toe Potgieter die agterdeur oopmaak.

Die Ettlinger-egpaar het die Potgieters hospitaal toe gebring. Intussen het ’n plaaslike sekerheidsmaatskappy enkele huise van die Potgieters se huis af op die beseerde man afgekom. Hy het katswink en bloeiend op die grond gelê waar ’n ambulans en die polisie hom kort daarna aangetref het.

Lubbe sê die man het by ’n kamervenster ingebreek om in haar ouers se huis te kom.

“Ons weet nie hoekom het die alarm nie afgegaan nie. Dit was moontlik nie geaktiveer op die plekke waar hy beweeg het nie.”

’n Polisiewoordvoerder was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

Meer oor:  Vereeniging  |  Aanranding  |  Misdaad  |  Huisroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.