Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rower vlug met onderklere nadat hy vrou glo verkrag

’n Rower het met ’n vrou se onderklere gevlug nadat hy haar na bewering op ’n kleinhoewe in Onderstepoort, noord van Pretoria, verkrag het.

Die vrou se vyfjarige seun was by haar toe die man Maandag net voor 03:00 ’n baksteen deur haar slaapkamervenster gegooi het, het die eienaar van die kleinhoewe Maandag gesê. Sy ondersteun die vrou emosioneel.

Daar bly ook ander mense op die kleinhoewe, maar volgens die eienaar kon niemand die vrou se gille hoor toe die glas van die slaapkamervenster gebreek het nie.

Die naam van die slagoffer word weerhou omdat die name van slagoffers van seksuele geweld nie sonder hul toestemming in die media bekend gemaak mag word nie.

Die man het glo ’n vuurwapen deur die venster op die vrou gerig en haar beveel om die voordeur oop te sluit.

“Sy het die deur opgesluit. Ek dink nie sy het helder gedink nie. Sy het die man gevra om nie haar seuntjie seer te maak nie,” sê die hoewe-eienaar.

Die vrou het haar selfoon en handsak vir die rower gegee nadat hy daarvoor gevra het. Die rower het haar beveel om saam met hom na die buitehek te stap.

“Sy het vir haar seuntjie gevra om in die huis te wag.”

Toe die rower haar glo vra om haar klere uit te trek, het die vrou aanvanklik gedink hy bedoel net haar baadjie. Die rower het haar egter gedwing om heeltemal te ontklee en het haar toe na bewering verkrag.

“Hy het met haar onderklere gevlug.”

Volgens die eienaar is haar eie honde by bure gekry en sy vermoed die rower het die diere soontoe gelok.

Dit lyk ook vir haar of die een hond geslaan is en of die ander hond gif ingekry het.

Cobie Jansen van Rensburg, voorsitter van die sektor 3-gemeenskapspolisiëringsforum in Pretoria-Noord, sê die vermoede bestaan dat die vermeende verkragter die vorige aand op ’n kleinhoewe daar naby toegeslaan het. Die modus operandi van die twee voorvalle stem volgens Jansen van Rensburg ooreen.

Volgens die eienaar van die hoewe sal die vrou berading ontvang.

“Sy huil dan en wan, maar ek dink nie sy het al ten volle begryp wat met haar gebeur het nie,” sê sy.

Kapt. Matthews Nkoadi, polisiewoordvoerder, het Dinsdag bevestig die polisie ondersoek ’n saak van verkragting en huisroof.

Meer oor:  Pretoria  |  Kleinhoewe  |  Rooftog  |  Verkragting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.