Twee rowers het Maandagmiddag gesorg dat hulle ’n vroeë Kersbonus kry toe hulle Ventersburg in die Vrystaat se poskantoor van meer as R300 000 beroof het.
Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê twee werknemers, onder wie die posmeester, was omstreeks 16:20 nog binne die poskantoor werksaam toe die rowers die poskantoor se glasdeure oopgeskop en die gebou binnegestorm het.
Die twee mans het die posmeester en sy klerk met ’n vuurwapen gedreig en geld geëis.
Die twee werknemers het al die geld in die poskantoor aan die rowers oorhandig.
Hulle het toe ook die posmeester se beursie met R600 kontant geroof.
Makhele het Maandag gesê ’n onbekende bedrag is gebuit, maar Netwerk24 het vertroulik verneem dat meer as R300 000, wat vir Sassa-uitbetalings afgelewer is, geroof is.
Die verdagtes het in ’n silwerkleurige Hyundai met Lesotho-nommerplate van die toneel gevlug.