Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers by kerk dood: Joost se broer skiet terug

WAARSKUWING: Foto's kan sensitiewe lesers ontstel

Twee rowers is dood en hul makkers moontlik gewond toe hulle Sondagoggend gewapen by ’n kerkdiens in Wierdapark, Centurion, ingestorm het. 

’n Gemeentelid, Pieter van der Westhuizen, broer van die rugbyheld Joost, het met dodelike akkuraatheid teruggevuur.

Terwyl Van der Westhuizen teruggeskiet het, het ’n gedruis van gebed deur die Querencia Bedieninge-gemeente getrek terwyl hulle gekoes het.

Niemand in die kerk is ernstig beseer nie.

Pieter van der Westhuizen by die een aanvaller wat later op die toneel dood is. Foto: Verskaf

Ruan Heyns van Community Emergency Response Team (Cert) sê ’n 15-jarige seun is wel skrams deur ’n verbygaande koeël teen die borskas “geskraap” en van die gemeentelede, onder andere past. Kobus Erasmus, is rondgeruk en met vuurwapens geslaan.

Van der Westhuizen se prokureur, Ulrich Roux, sê hulle was reeds in verbinding met die polisie wat die voorval ondersoek.

“My kliënt het uit absolute selfverdediging, nie net vir sy eie lewe nie, maar ook vir die ander gemeentelede en die pastoor, teen wie se kop daar ’n vuurwapen was, opgetree,” het hy bygevoeg.

Erasmus vertel daar was net meer as 30 mense in die kerk wat in ’n lokaal by ’n sake-onderneming in Estcourtlaan gehou word.

“Dit was die einde van die diens, 11:30. Ons was besig om die laaste seënbede te sing. Drie mans het die kerk ingekom en een het na my toe gestap. Hy het sy wapen teen my kop gestamp. Dit is ’n wonder dat daar nie ’n skoot afgegaan het nie.

“As ek reg onthou, was dit hy, die een man wat tussen die gemeentelede inbeweeg het, en nog een by die deur,” vertel Erasmus.

Hy weet skote het geklap en gemeentelede het gekoes.

Van der Westhuizen, ’n oudpolisieman, het glo toe hy die wapen teen die pastoor se kop sien, sy eie wapen uitgehaal.

Hy het die aanvaller by die kansel doodgeskiet en die ander een ernstig gewond.

Die derde rower het gevlug, vermoedelik op pad na die wegkom-motor waarin ’n vierde man gewag het. Hy het omgedraai “asof hy gaan skiet”.

Van der Westhuizen het toe glo ’n skoot op hom en sy makker in die wegkom-motor, vermoedelik ’n wit Hyundai, gevuur.

Die rower is op die kansel dood nadat hy ’n vuurwapen teen die pastoor se kop gedruk het. Foto: Verskaf.

Hannes du Buisson, woordvoerder van die groep Centurion Concerned Citizens (CCC), sê hulle het om presies 11:30 ’n noodroep ontvang van iemand by die kerk wat vra vir mediese hulp en die polisie.

“Dringend nodig! Dringend nodig! Ag, Here . . .” het die stem half smekend uitgeroep toe die persoon vir ’n oomblik die straatnaam vergeet.

“Hulle het ons geroof in die kerk. Ons het twee geskiet in die kerk. Ons kort dringend hulp.”

CCC het onmiddellik bystand ontbied.

Du Buisson sê volgens hul inligting het een rower sy vuurwapen reg teen die pastoor se kop op die kansel gedruk terwyl gemeentelede rondgeruk en geslaan is soos die rowers hul besittings geëis het.

Toe klap die skote heen en weer.

“Die een gemeentelid het die aanvaller by die pastoor geskiet en die ander een gewond. ’n Ander gemeentelid het die beseerde rower vasgegryp en platgedruk sodat hy nie kan wegkom nie,” vertel Du Buisson.

Lede van die veiligheidsmaatskappy Scorpion Risk Services was blitsig op die toneel. Riaan Erasmus, uitvoerende hoofbeampte, sê met sy aankoms het die gemeentelede nog uit die kerk gekom.

Daar was talle patroondoppies op die toneel as getuienis van die oor-en-weer-skietery.

“Een verdagte het agter die preekstoel gelê. Die ander een het op die vloer van die kerk, naby die deur gelê,” vertel hy.

Heyns sê met hul aankoms het die rower by die kansel in ’n opgekrulde posisie gelê. Hy is op die toneel dood.

Van die koeëlgate in die lokaal se mure soos rowers en Pieter van der Westhuizen op mekaar geskiet het. Foto: Verskaf

Die rower wat tussen die stoele geval het, is in die bolyf gewond. Hy het nog tekens van lewe getoon en is daar behandel. Hy is egter kort daarna dood.

“Geen gemeentelid is in die skietery gewond nie. Die pastoor is beseer toe hy met ’n vuurwapen geslaan is en die een tienerseun het ’n skraapmerk op sy bors waar ’n koeël verbygetrek het,” het Heyns bygevoeg.

Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, het later bevestig dat twee van die rowers in die kerk dood is.

“Die derde verdagte het gevlug in ’n wegkom-motor wat buite die kerk geparkeer was. Luidens inligting blyk dit dat drie verdagtes die kerk tydens die diens ingegaan het en lidmate met vuurwapens aangehou en van hul persoonlike besittings beroof het.

“Polisielede op die toneel het een vuurwapen gevind.

“Net die pastoor is lig beseer,” het sy bygevoeg.

Past. Eramus glo dit was net die Here se beskerming wat die gemeente veilig gehou het.

“Ons kerk se naam beteken ’n plek van veiligheid, waar ’n mens kan wegkruip. Soos Daniël se drie vriende in die vuuroond, spring gelowiges nie die oond vry nie, maar die Here is saam jou daar en beskerm jou.

“Daar het koeëls verby my mense gevlieg. Tog het hulle begin bid, van hulle het die aanvallers gevra of hulle die Here ken.

“Ná die tyd het ons uitgestap, mekaar getroos en ‘Jesus Loves Me’ gesing, want die Here was vandag vir ons bonatuurlik goed,” sê die pastoor.

Die Querencia Bedieninge-gemeente gebruik die gebou as hul kerk. Foto: Community Emergency Response Team (Cert)
Nooddienste was Sondag blitsig op die toneel waar twee gewapende rowers in ’n kerk doodgeskiet is. Foto: Community Emergency Response Team (Cert)

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.