Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers gevang voordat hulle wegkom met buit
Die wegkommotor van die vermeende rowers nadat hulle tot stilstand gedwing is deur Levy Mokoena van Prosec CITR. Foto: Deaan Vivier

Drie mans wat ’n afleweringsvoertuig in Pretoria beroof het, is vasgetrek met al die gesteelde goedere in hul voertuig.

’n Vierde man het ontsnap, maar die polisie hoop hy kan ook binnekort in hegtenis geneem word.

Mannie Visser, wat verbonde is aan die Prosec CITR-veiligheidmaatskappy in Sinoville, Pretoria, het Maandag gesê hulle het die polisie bygestaan om van die booswigte aan te keer.

Enkele oomblikke nadat ’n koeriervoertuig omstreeks 09:00 in die omgewing van Sefako Makgatho-rylaan deur die vier gewapende mans beroof is, het Prosec CITR se Levy Mokoena hulle gewaar. Die verdagtes het vuurwapens gehad en het al die pakkies van die voertuig oorgelaai in hul voertuig.

Volgens Visser was Mokoena in die omgewing van Marijastraat toe hy die verdagtes in hul silwer Hyundai I10 sien. Die polisie was kort op hul hakke. Hulle het van die kaping gehoor, die voertuig gesien en dit agternagesit.

Bewysstukke word Maandagoggend ingesamel op die toneel waar gewapende rowers tot stilstand gedwing is ná ’n wilde jaagtog in die noorde van Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Die Hyundai het met ’n geweldige spoed aangekom en in Sefako Makgatho teen die verkeer ingedraai.

Mokoena het vinnig gedink, sy ligte aangesit en dwars in die pad gaan stop om die voortvlugtendes af te sny.

Een van die verdagtes het toe reeds besluit om uit die bewegende voertuig te spring en het die hasepad gekies.

Sy drie makkers het ’n botsing met Mokoena probeer vermy, maar het hom tog getref voordat hulle in ’n boom vasgery het. “Die motor is in sy peetjie,” sê Visser.

Die voertuig het uiteindelik tot stilstand gekom nadat dit ook deur die heining is oorkant die Zambezi-sentrum.

Kapt. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, sê een van verdagtes wat in hegtenis geneem is, is raakgeskiet in ’n oor-en-weer-skietery tussen die rowers en die polisie.

Al die gesteelde goedere is teruggevind. Die polisie het ook beslag gelê op vuurwapens.

Die mans sal na verwagting binnekort in die hof verskyn op aanklagte wat verband hou met gewapende roof, die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen, poging tot moord, asook die nalatige of roekelose bestuur van ’n voertuig. Die gewonde verdagte is onder polisiebewaking in die hospitaal en sal later in die hof verskyn.

Meer oor:  Prosec Citr  |  Rowers Gevang  |  Rooftog  |  Gefnuikte Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.