Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers lank tronk toe ná plaasaanval, roof en ontvoering

Die rowers wat ’n bejaarde egpaar van die Boland op hul bessieplaas aangeval en ontvoer het, is ’n swaar vonnis van 23 jaar tronkstraf vir hul misdade opgelê.

Raymond (77) en Betty (72) O’Grady, is op 21 Augustus 2020 in hul huis op Hillcrest Berry Orchards buite Stellenbosch aangeval en beroof.

Drie aanvallers het omstreeks 07:20 die huis binnegekom.

Hulle was met messe en stokke gewapen en het Raymond verskeie kere gesteek en Betty ontvoer. Die aanvallers het haar by die egpaar se voertuig ingedwing en beveel om reguit na Kayamandi te ry, waar hulle uitgespring het. Sy het toe teruggery huis toe.

Raymond is in die hospitaal opgeneem, maar is later ontslaan.

Raymond O’Grady, eienaar van die Hillcrest Berry Orchards buite Stellenbosch. Foto: Argief

Die drie aanvallers is die volgende dag deur die polisie in hegtenis geneem. Die saak teen een van hulle is laat vaar omdat hy nie met die voorval verbind kon word nie.

Manilisi Sphuhle (26) en Luthando Ngam (31) van Kayamandi is in die streekhof in Stellenbosch verhoor. Luidens die klagstaat het hulle op 2 Desember skuld beken op aanklagte van roof met verswarende omstandighede, aanranding met die doel om ernstig te beseer en huisbraak met die doel om te steel.

Op 10 Februarie is hulle tot 23 jaar tronkstraf gevonnis en hulle is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die direkteur van openbare vervolging (DOV), het die skuldigbevinding en vonnis bevestig.

Felex Mzungu, wat as woordvoerder vir die egpaar optree, het Dinsdag gesê die egpaar was nie eens bewus van die verwikkeling in die saak nie en is deur die media in kennis gestel.

Hy sê die egpaar wil nie kommentaar lewer nie, maar hulle is op ’n goeie herstelpad ná die voorval.

Ivan Meyer, LUR vir landbou, het die vonnis verwelkom.

Hy het die polisie en die direkteur van openbare vervolging bedank vir hul harde werk om ’n saak suksesvol af te handel.

“Die vonnis stuur ’n sterk boodskap aan diegene wat aanvalle op die plaasgemeenskap beplan en uitvoer dat hulle swaar gestraf sal word,” sê hy.

Die ingang van die Hillcrest Berry Orchards buite Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Meyer sê die veiligheid van landelike gebiede is ’n groot prioriteit vir die Wes-Kaapse regering en enige aanval op die plaasgemeenskap is ’n aanval op die landelike gemeenskap.

Die Hillcrest Berry Orchards is in die Kaapse Wynland-distrik, wat hoofsaaklik bestaan uit tuinbou- en landboukunde.

“Ons sal nie aanvalle op ons boere en werkers duld nie en ek sal aanhou om hierdie gemeenskappe te beveilig en ook verseker dat hulle met waardigheid hanteer word,” sê Meyer.

Meer oor:  Betty O’Grady  |  Raymond O’Grady  |  Stellenbosch  |  Plaasaanval  |  Ontvoering  |  Roof  |  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.