Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers maak hondjie dood

‘Hy is soos ’n teddiebeertjie. Hy het 2,5 kg geweeg . . . Ek meen: Watter gevaar kon hy wees? Hy was agt maande oud. Die katjie het gister heeldag rondgeloop en na hom geroep . . .”

In hierdie badkamer het Wilma Ferreira 15 uur lank vasgebind gesit. Foto’s: Paul Parsons

Net meer as ’n maand nadat Wilma Ferreira (79) van Centurion se man dood is, het die rowers wat haar gedreig en 15 uur lank vasgebind gelaat het, haar trooshondjie doodgemaak.

Haar susterskind, Gareth Nicholls, het Chocolate vir haar gegee nadat Ray (81) sy kankerstryd op 18 November verloor het.

Wilma sou Kersdag saam met haar familie deurgebring het, maar omdat sy Chocolate en Cuddles, haar katjie, nog so kort gehad het, het sy besluit om tuis te bly. Sy sou Kersdag middagete saam met haar bure, Stephen en Sonja Wellington, eet.

‘Ek het net die hele nag gebid, en gebid en gebid.'

“Maar ek het gesê ek sal nog altyd die aartappelslaai maak. Ek het om 20:45 uitgestap om vir Stephen te vra of ek my vullis moet uitsit omdat ek nie seker was of hulle dit op Kersdag sou kom laai nie. Ek het die veiligheidshek in die kombuis en die voordeur gesluit. Toe ek terugkom, wou ek die slaai gaan klaarmaak. Ek weet nie waar het hulle vandaan gekom nie, seker agter die deur gestaan, maar toe sien ek hierdie twee groot, swart handskoene wat van agter oor my mond vou.”

Sy het probeer skree.

Wilma onthou hoe sterk die arms was wat haar maer lyf vasgedruk het. “Toe gooi hy my op die teëls. Dat ek nie ’n been gebreek het nie, is ’n wonderwerk. Toe sien ek daar is ’n vrou by. Sy het die man heeltyd baby genoem. Toe bind hulle my voete en hande vas met my voorskoot se bande wat hulle afgeknip het. Hulle het my inchtape (maatband) gebruik om my voete te bind.”

Dood: Chocolate

Hulle wou weet waar is die geld en die kluis. “Ek weet nie of hulle gedink het hier is geld in die huis omdat my man onlangs oorlede is nie. Maar ons het nie ’n kluis nie.”

Die man het ’n reusemes gehad. Die polisie het dit later in die huis gekry.

Die aanvallers het gedreig om haar dood te maak as sy nie vir hulle “die geld” gee nie. “Elke keer as ek hom antwoord, sê hy hy gaan my doodmaak: ‘Shut up or I’ll kill you!’ en sy het gedreig om my in die been met die mes te steek.”

Hulle het haar in ’n slaapkamer se deur laat sit en ’n kombers oor haar kop gegooi.

Die aanvallers het die huis in ’n verskriklike toestand gelaat.

“Toe het my hondjie oor my skoot gehardloop en is weg, pleks hy gaan kruip weg. Hy het nie eens geblaf nie.”

Die aanvallers het al die gordyne toegetrek en die televisie aangeskakel terwyl hulle die huis geplunder het.

Bykans ’n uur later is Wilma in die badkamer op ’n stoel vasgebind en ’n stuk lap is in haar mond gedruk.

Sy het hulle gesmeek om nie weer die kombers oor haar kop te gooi nie. Toe gooi die man een van haar man se hemde oor haar kop. Daar het sy 15 uur lank gesit.

“Ek het net die hele nag gebid, en gebid en gebid. Liewe Heer, spaar my en my hondjie en my katjie se lewens. Laat hulle vat wat hulle wil vat. The Lord is my Shepherd, I’ll not want.”

Die aanvallers is vort met sleutels, haar diamantring, Amerikaanse dollars, nog kontant en elektroniese toebehore.

Die lap in haar mond het papnat geword van die sweet en dít het haar tong nat gehou.

“Die Here het my bewaar, maar hulle het my hondjie doodgesteek.”

Toe Nicholls op Kersdag opdaag en sy nie oopmaak nie, het hy vir Stephen gebel. Hulle het oor die hek gespring en na haar begin soek. Deur ’n gleufie in die gordyne kon hulle sien die bed is baie deurmekaar, wat hulle onraad laat vermoed het.

Wilma sê sy het net heeltyd bly bid dat hulle nie dink sy is nié daar nie en dalk weer loop. Sy kon die lap uit haar mond wikkel en na hulle roep. Stephen het die traliehek losgeboor en die deur oopgebreek om haar te bevry.

Ná die aanval was Chocolate én Cuddles weg. Cuddles het self teruggekom. Toe begin die soektog na Choc­olate met plakkate, oproepe na veeartse en pleidooie in sosiale media.

Toe hulle op Nuwejaarsdag terugkeer na haar huis het hul iets slegs geruik. Wilma het Chocolate dood gekry waar die rowers hom in haar wolsak toegerits het. Daar was bloed aan sy lyfie.

Die hondjie is intussen veras.

Wilma sê sy sal waarskynlik na een van haar drie seuns trek. Twee van hulle speel tennis in die VSA en die derde in Frankryk.

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van huisroof word ondersoek en niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Roof  |  Dieremishandeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.