Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers martel werkers vir inligting oor boer se huis

Plaaswerkers van Honingsnest, noord van Pretoria, wat Dinsdagnag in hul woonkwartiere aangeval en gemartel is om inligting oor die boer se huis te kry moes Woensdag berading ontvang.

’n Vroueplaaswerker, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, is ten aanskoue van haar medewerkers verkrag. Sy is tans in die hospitaal.

Volgens Wayne Alberts, op wie se plaas die aanval was, was daar duidelike tekens dat die rowers die huis voor die aanval dopgehou het.

Hulle het ’n opening in die heining geknip en die werkers omstreeks 02:00 in hul kwartiere oorval.

Een van die rowers het ’n pistool gehad, maar volgens Alberts is die werkers met hamers en boutsnyers aangerand.

’n Sigaretstompie wat in die veld ontdek is, is vermoedelik op die plek waar die rowers Alberts se huis en die werkers voor die aanval dopgehou het.Foto: Verskaf

Veral een van die mans is erg geslaan en geskop, en hy is gedwing om te kyk hoe die vrou verkrag word.

“Hulle het hom in die gesig geskop en op sy kop getrap sodat sy gesig gedraai was en hy gedwing was om te kyk,” sê Alberts.

Hulle wou deurentyd by die werkers weet waar “die mense van die huis” se sleutels en kluis is, sê Alberts.

“Ek dink dit is duidelik dat hulle by my huis wou inbreek. Dit is nie vir my duidelik hoekom hulle nie het nie, maar ek dink my drie boerboele het hulle dalk van plan laat verander,” sê Alberts.

Die rowers het die werkers se koppe met komberse bedek, hul hande vasgebind en hulle die veld ingeneem.

Daar wou hulle steeds weet hoe om by die huis in te kom en het die werkers met die dood gedreig, het Alberts later gehoor.

In die veld is ook gereedskap, wat onder meer ’n skroewedraaier insluit, gevind. Foto: Verskaf

Sowat ’n uur nadat die rowers hulle daar gelaat het, het die werkers daarin geslaag om hulself los te wikkel.

Hulle het dadelik hulp ontbied en die vrou is na ’n hospitaal geneem.

In haar kamer het die polisie sigaretstompies as bewysstukke opgetel. Nóg stompies is in die veld gekry naby gereedskap wat die rowers vermoedelik in hul haas agtergelaat het.

’n Polisiewoordvoerder, kapt. Rebecca Phatlane, het Woensdag gesê die polisie ondersoek ’n saak van huisroof en verkragting. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie.

Alberts het gesê hy gaan die veiligheidsmaatreëls by die werkers se kwartiere opskerp.

Meer oor:  Aanval  |  Rowers  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.