Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers oorval Stellenbosse predikantspaar

“Ons is dankbaar ons leef.”

Dit was Maandag die woorde van ds. Marié Britz van die NG Moedergemeente op Stellenbosch nadat sy en haar gesin verlede week deur vyf gewapende mans in hul huis aangehou is.

Britz het Maandag gesê die voorval was Woensdag kort ná 20:30.

Haar man, Stephan, is deur twee gewapende mans aangeval toe hy hul worshondjie buitentoe neem. Nog drie mans het by die huis ingehardloop en hul 12-jarige dogter gegryp.

Britz was in die slaapkamer. “Toe ek omdraai, sien ek ’n man met ’n vuurwapen in my kamer. Ons seun was in daardie stadium nie in die huis nie, maar in ’n ander geboutjie op ons erf waar hy geoefen het.”

Toe hul seun wel later inkom, het die rowers aan hom geskreeu om op sy knieë te gaan. “Ek is net bly dat hy rustig was en gedoen het wat hulle vir hom sê.”

Ds. Marié Britz en haar man, Stephan. Foto: Facebook/Marié Britz

Britz sê die rowers het gekom om te steel.

“Hulle wou onmiddellik by ons weet waar die kluis is. Hulle het geld gesoek en het ons selfone, skootrekenaars, ringe en juweliersware gesoek.”

Volgens haar het die rowers haar man na hul kluis geneem en hom gedwing om dit oop te maak. “Ons het gelukkig nie baie juweliersware nie, maar hulle het alles gevat wat hulle kon, veral elektroniese goedere,” sê sy.

Stephan is vasgebind en in die vertrek met die kluis gelos. Sy en die kinders is ook vasgebind en na ’n badkamer geneem en daar gelos.

Britz sê die rowers was seker langer as ’n uur in hul huis doenig. “Ons het eers ná 22:15 uit die badkamer gekom en het toe alarm gemaak.”

Hulle het reeds die volgende dag hul dogter vir berading geneem. “Dit is baie traumaties vir haar. Sy het gesien hoe hulle my man na die vertrek neem waar die kluis is. Hy het nog roerloos vasgebind op die vloer gelê toe ons uit die badkamer kom. Dit was vir haar baie traumaties, want vir ’n oomblik het ons gedink my man is dood. Gelukkig is ons ongedeerd.”

Britz sê met die staat van inperking is dit moeilik om by mense uit te kom. “Ons praat maar met mekaar oor wat gebeur het. Die een dag voel jy beter en die volgende dag sien jy die ander persoon is af, dan praat jy maar met daardie een.”

Sy vrees egter met die staat van inperking gaan mense nog swaarder kry en dat meer mense hulle tot misdaad gaan wend om te oorleef.

Navrae is na die polisie gestuur. Kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang is.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Rowers  |  Oorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.