Nog ’n Chinese sakeman van die Vrystaat het Dinsdagoggend die slagoffer van misdadigers geword toe hy op pad na die varsproduktemark in Bloemfontein beroof is.
Die 31-jarige man van Ha-Rasebei, Edenburg, is die derde Chinese sakeman wat vandeesmaand in die Vrystaat deur misdadigers geteiken is. Die vorige twee het met hul lewens geboet.
In Dinsdag se voorval was die sakeman omstreeks 07:30 op pad na die varsproduktemark in Rudolf Greylinglaan, Estoire, om voorraad vir sy winkel te koop.
Twee mans het sy wit Toyota Hilux-bakkie voorgekeer en een het hom met ’n vuurwapen gedreig en kontant by hom afgeneem, het lt.kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, gesê.
Sy makker het terselfdertyd die passasierskant van die bakkie deursoek.
Die rowers het hom daarna beveel om te ry en hulle het weggehardloop.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
* Twee ander sakemanne, Chen Jinquan (43), eienaar van die H-M Worldmart in Thaba Nchu, en H. Zang (45), ’n winkeleienaar van Botshabelo buite Bloemfontein, is vroeër vandeesmaand op dieselfde dag vermoor.
Drie rowers het op Sondag 3 Maart omstreeks 18:30 op die H-M Worldmart toegeslaan en geld geëis. Een van die mans het Jinquan in ’n stryery doodgeskiet.
Vroeër die dag het drie mans Zang ontvoer, waar hy langs die pad buite Wepener glo vir ’n verkeersoortreding afgetrek is.
Hulle het hom in sy motor se kattebak gelaai en weggejaag. Sy lyk is later die dag met ’n skietwond in die kop gevind.