Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers steek outistiese seun 5 keer met mes
Die agtjarige Jannie Peens lê nog verskrik en geskok in die hospitaal nadat hy vyf keer met ’n mes gesteek is. (Foto met toestemming van sy ma gebruik).

’n Agtjarige outistiese seuntjie is Dinsdag in ’n huisrooftog vyf keer met ’n mes gesteek.

“Daar was net R150 kontant in die huis. Vir R150 was my kind amper dood!” het ’n steeds getraumatiseerde Chrisanthy Peens (38) Woensdag gesê.

Sover sy kon vasstel, was dit al wat die aanvallers gevat het.

Haar seun, Jannie, het erge outisme. Hy dra doek en kan nie praat nie. Soms moet hy ’n rolstoel gebruik.

“Hy kan nie eens sê hy het seer nie.”

Peens en Jannie was Dinsdagoggend alleen by hul huis in Springs aan die Oos-Rand.

Die kind het op die trampolien in die voortuin gespeel terwyl sy ma by hom gestaan het.

Skielik was daar twee mans, gewapen met messe, langs haar.

“Hulle het net gesê ‘go inside and don’t make a sound’. Hulle het senuweeagtig gelyk.

“Jannie was nog op die trampolien toe die twee my gryp.

“Hy het van die trampolien afgestorm en op hulle gegil. Toe stamp die rowers ons albei die huis in,” het Peens vertel.

Die aanvallers het geld gesoek.

Peens het gesê hulle hou nie geld in die huis nie.

“Toe steek die een my kind. Vyf keer. Twee steekwonde in sy ruggie by die blad, een in sy maag en een in elke arm. ”

Die ma het begin skree en baklei.

“Ek het gegil ‘los my kind! Ek sê dan ons het nie geld nie!’ Maar die man het vir Jannie aanhou steek.

My kind het ’n gil gegee wat hy nog nooit gegee het nie.
Chrisanthy Peens

“My kind het ’n gil gegee wat hy nog nooit gegee het nie.”

In haar desperate pogings om vir Jannie te red, het Peens self tien snywonde aan haar arms opgedoen.

Toe stamp een van die rowers haar kop teen die muur.

“Hy het dit ’n paar maal gedoen voordat ek my bewussyn verloor het.”

Sy het op die vloer inmekaargesak.

“Toe ek bykom, het Jannie met sy bebloede blou hempie in die kombuis gestaan en die rowers was weg.

“Gelukkig het hulle nie my foon gesien waar dit gelaai het nie. Ek was so duiselig, ek moes na die foon kruip.”

Peens het haar man en die plaaslike gemeenskapspolisiëringforum (GPF) gebel en sy en Jannie is hospitaal toe geneem.

Toe ek bykom, het Jannie met sy bebloede blou hempie in die kombuis gestaan.
Chrisanthy Peens

“Die wond in Jannie se maag en een op sy arm is baie diep. Dankie Here daar is nie skade aan sy ingewande nie,” het Peens gesê.

Sy en haar seun is later ontslaan.

Kapt. Johannes Ramphora, polisiewoordvoerder, het gesê die rowers het Peens en haar seun ongeveer om 10:00 aangeval.

“Die aanvallers het die kind vermoedelik begin steek om die ma te dwing om saam te werk,” het hy gesê.

Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Springs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.