Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers storm Mount Nelson in

Sowat 100 uitgelese gaste van Singapore Airlines het die afgelope Dinsdag skaars vertrek ná ’n geselligheid by die Belmond Mount Nelson-hotel in Kaapstad toe gewapende rowers daar toegeslaan het.

Die Mount Nelson-hotel. Foto: Edrea du Toit

Die rowers het ander hotelgaste en personeel rondgejaag, die juwelierswarewinkel se toonbanke met hamers stukkend geslaan en met juwele en kontant gevlug.

Dié historiese hotel in die skaduwee van Tafelberg en bekend vir sy high tea en tydlose luuksheid, is ’n groot toeristetrekpleister.

Chua Thai Keong, Singapoer se hoë kommissaris, David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, asook Ian Neilson, Kaapstad se onderburgemeester, was onder die hooggeplaastes wat kort voor die rooftog nog daar was.

’n Afgetrede prokureur van die Strand, Ben van Rensburg, wat ook een van Singapore Airlines se gaste was, sê die laaste gaste is ongeveer halfelf die aand daar weg. “Net daarna toe slaan die rowers toe! Ek sê vir myself God kyk na sy kinders . . . ons is net betyds weg. Wat ’n wonderwerk dat alles vroeg geëindig het . . .”

Omstreeks 22:45 het ’n Toyota Corolla en ’n Volkswagen Polo met 15 mans by die hoofingang van die hotel ingery. Van hulle het bofbalpette gedra.

Hulle het ’n sekuriteitswag by die hoofhek se handradio en knuppel gevat. Twee van die boewe het hom opgepas terwyl die res in die hotel se voorportaal en kroeg in is. Van die gaste is van hul selfone en kontant beroof voordat die rowers die juwelierswinkel getakel het.

Rapport verstaan die meeste juweliersware word aan die einde van die werksdag in ’n kluis gebêre en die rowers het dus nie daarby uitgekom nie.

Dit was die tweede keer die afgelope sewe jaar dat die juwelierswinkel beroof is.

’n Taakspan van die polisie ondersoek die saak.

Maynier het Vrydag die vinnige optrede van die wetstoepassers verwelkom. Hy sê dit was ’n geïsoleerde voorval.

“Ons het dadelik ons toerismeveiligheidsreaksiespan ingeroep wat ondersteuning aan die gaste en personeel gebied het. Ons neem toerisme ernstig op, aan­gesien dit nagenoeg 300 000 werkgeleenthede in die Wes-Kaap ondersteun.”

Jeff Rosenberg, voorsitter van Fedhasa, die verteenwoordigende liggaam vir die gasvryheidsbedryf, sê hulle is diep bekommerd oor die voorval en die invloed daarvan op die toerismebedryf.

’n Woordvoerder van die eienaars van die Belmond-groep het vanuit Brittanje aan Rapport gesê “sterk veiligheidsmaatreëls” bestaan in al hul sakeondernemings oor die wêreld heen en hersien dit gereeld.

Meer oor:  Roof  |  Singapore Airlines
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.