Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers takel man ná hulle deur op hoewe oopskop
Jacques van Schalkwyk ná die aanval.

Die broer van een van die sogenaamde Waterkloof-vier is besig om goed aan te sterk ná ’n aanval op sy pa se kleinhoewe tussen Hammanskraal en die noorde van Pretoria.

Jacques van Schalkwyk (35) is volgens sy pa, Jaco (58), waarskynlik Maandag voor middernag deur twee mans oorval toe hy op die bank voor die televisie aan die slaap geraak het.

Die rowers het die kombuisdeur oopgeskop en Jacques met moersleutels aangerand voor hulle hom vasgebind en geld en wapens geëis het.

Sy vrou, Riëtte, en die egpaar se vierjarige tweeling het gelukkig op die betrokke aand by haar pa in Moreletapark oorgeslaap.

Volgens Jaco kon sy seun homself omstreeks 00:15 met die hulp van ’n werker gedeeltelik loskry en het Jacques hom dadelik gebel.

Jaco het sy buurman, Pieter Oosthuizen (41), ’n lid van die Apiesrivier Landelike Brandbeskermingsvereniging, vir hulp geskakel en na die kleinhoewe gejaag.

“Jacques het net vir my gesê, ‘Dad, hulle het my geslaan, hulle het my geslaan’.”

Jacques het net vir my gesê, ‘Dad, hulle het my geslaan, hulle het my geslaan’.

Jacques was vol bloed en steeds vasgemaak toe hy opgedaag het.

“Ons het aanvanklik vermoed sy kakebeen en van sy ribbes is dalk gebreek, maar aan die einde van die dag het hy gelukkig net ’n paar steke nodig gehad.”

Jacques is op die toneel behandel voor hy hospitaal toe gejaag is. Hy is Dinsdagoggend ontslaan.

“Die rowers het Jacques se skoene met sy einste veters vasgebind. Hulle ook sy hande vasgemaak en hom toe van kamer tot kamer gesleep,” het Jaco gesê.

“Hy het in ’n stadium vir hulle gevra om hom asseblief net nie weer te slaan nie, waarna hulle vir hom gesê het oukei dit is reg, solank hy net daar sit.”

Volgens Jaco het Jacques gesê hy sal Woensdagaand weer by sy huis, ’n troukerkie wat in ’n chalet omskep is, gaan slaap.

Hy het in ’n stadium vir hulle gevra om hom asseblief net nie weer te slaan nie, waarna hulle vir hom gesê het oukei dit is reg, solank hy net daar sit.

Hy het gesê hy vind dit vreemd dat die rowers die hoofhuis net so gelos het en vermoed Jacques se Jack Russel was bedwelm.

“Dit is vir my baie vreemd dat die Jack Russel net daar op die bank gesit en na die ouens gekyk het.”

Hy sê die rowers het Jacques se motorsleutels gevat en ’n skootrekenaar uit sy motor gesteel. Hulle het hulself ook met sy troupand, klere, van sy kinders se klere en videospeletjies uit die voete gemaak.

Die gesin sou Woensdagoggend die saak by die Hammanskraal-polisiekantoor gaan aanmeld het.

“Jacques is nog op baie morfien, maar ons is net bly dinge was nie erger nie,” het Jaco gesê.

Oosthuizen, wat voorheen met Jaco oor beweerde rampartytjies op sy perseel gebots het, het Dinsdag erken die twee het nie juis ooghare vir mekaar nie.

“In ’n noodtoestand soos hierdie maak dit nie saak of jy van iemand hou nie. Ons is ’n baie hegte gemeenskap en almal het bymekaar gekom en hul bes gedoen om te help. Hierdie aanval betrek ons almal.”

* Die Waterkloof-vier – Christoff Becker, Reinach Tiedt, Gert van Schalkwyk en Frikkie du Preez – is in Januarie 2007 in die Pretoriase landdroshof elk tot 12 jaar tronkstraf gevonnis op aanklagtes van onder meer moord, maar het uiteindelik net ongeveer die helfte van hierdie vonnis uitgedien. Die vier het in Desember 2001, toe hulle nog skoolkinders was, ’n hawelose man vermoor en nog een aangerand met die opset om hom ernstig te beseer. Hulle is in Augustus 2008 tronk toe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.