Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers vas nadat wegkom-motor afgetrek word

Twee rowers is vasgetrek nadat hul wegkomvoertuig op die N2 buite Knysna deur verkeerspolisie van die pad getrek is en van die insittendes die bosse in laat spaander het.

Daar is ook op ’n ongelisensieerde vuurwapen beslag gelê.

Die ongelisensieerde vuurwapen waarop die polisie beslag gelê het. Foto: Verskaf

Volgens inligting van die polisie het die provinsiale verkeersowerhede Dinsdag omstreeks 20:00 ’n Opel Corsa met vier insittendes op die N2 buite Knysna in die rigting van George afgetrek.

“Dit was op die Witbrug naby Belvidere,” sê kapt. Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder.

Drie van die vier insittendes het toe uitgespring en in die bosse langs die Witbrug verdwyn. Sekerheidsbeamptes is ontbied.

Die bestuurder, ’n 32-jarige man, is in hegtenis geneem op ’n aanklag van sakeroof.

Die motor is deursoek en die polisie het afgekom op items wat verbind word met ’n rooftog by ’n spazawinkel in Concordia, Knysna, luidens ’n verklaring.

Volgens die polisie het die mans vroeër Dinsdag, omstreeks 19:30, by die winkel ingegaan. Een het ’n wapen by hom gehad. Die vier het die mense in die winkel gedreig en hulle gedwing om op die vloer te lê.

Die rowers het toe ’n onbekende bedrag kontant, sigarette en selfone gebuit en blykbaar die Opel Corsa gebruik om mee weg te jaag.

Woensdag met eerste lig het sekerheidsbeamptes van All Sound Security, ’n veiligheidsmaatskappy in Knysna, inligting opgevolg oor ’n verdagte man wat opgemerk is in die bosse waar die drie rowers die vorige aand verdwyn het. Hulle is soontoe. Die man het die beamptes gewaar en verder die bosse ingehardloop, maar hy is ingehaal en in hegtenis geneem. Die man is later positief met die rooftog verbind.

Die bosse is deursoek en ’n ongelisensieerde vuurwapen, ’n bedrag geld, sigarette en blou oorpakke is gevind.

Die twee mans verskyn Vrydag in die landdroshof in Knysna. Hul makkers is nog nie hegtenis geneem nie.

Meer oor:  N2  |  Knysna  |  Rowers  |  Verkeersmanne  |  Wegkommotor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.