Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rowers wat geldwa opblaas nog soek
Die toneel op die R36-pad in die Nkowankowa-nywerheidsgebied naby Tzaneen, Limpopo.

Polisie in Limpopo is op soek na die verdagtes wat toegeslaan het op ’n SBV-geldwa net buite Tzaneen.

Volgens brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het die drama omstreeks 18:00 ontvou op die R36-pad, naby die Nkowankowa-nywerheidsgebied, net buite die dorp.

Twee veiligheidswagte was glo besig om geld in dié gebied op te laai toe hulle deur ’n onbekende aantal gewapende rowers oorrompel is.

Wrakstukke van ’n SBV-geldwa lê versprei oor die pad nadat dit Vrydag deur ’n onbekende aantal rowers opgeblaas en die geld toe geroof is.

Die wagte is aangehou terwyl die rowers die geldwa met plofstof opgeblaas het. Hierna was dit maklik vir die rowers om die geld wat in die wa was te gryp.

“Dit is nog nie bekend met hoeveel geld die rowers weggekom het nie,” sê Naidoo.

Die rowers het ook ’n pistool van een van die wagte afgevat voordat hulle op die vlug geslaan het.

Volgens Naidoo het die wagte ligte beserings opgedoen.

Die polisie ondersoek die saak, maar teen Saterdag was nog geen arrestasies gemaak nie.

Twee veiligheidswagte is lig beseer nadat transitorowers dié SBV-geldwa opgeblaas het. Die wagte was Vrydag besig om geld op te laai in ’n nywerheidsgebied naby Tzaneen.

* Sover dit bekend is, was die transitorooftog in Tzaneen die derde soortgelyke voorval wat Vrydag aangemeld is.

Netwerk24 het vroeër berig twee geldwaens is minute van mekaar in en om Pretoria aangeval.

Albei voorvalle was omstreeks 10:00.

In die een voorval in Pretoria-Wes het rowers glo ’n ambulans as vervoermiddel en dekmantel gebruik om toe te slaan op ’n transitovoertuig. Hierdie aanval was glo onsuksesvol, hoewel een wag na bewering in die been geskiet is.

In die tweede voorval is verkeer op die N1 noord van Pretoria tot stilstand gedwing terwyl aanvallers glo doodluiters ’n geldwa opgeblaas het ten skoue van ander padgebruikers. Verkeer naby die Murrayhill-afrit en die R734-pad na Hammanskraal is afgesper nadat die rowers ’n SBV-geldwa van die pad gedwing het.

’n Onbekende hoeveelheid geld is uit dié SBV-geldwa gebuit nadat dit Vrydag deur ’n aantal gewapende rowers net buite Tzaneen, Limpopo, opgeblaas is.

Meer oor:  Geldwa  |  Transitoroof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.