’n Egpaar van Witbank is Vrydagaand by die hek van hul plaas, in die omgewing van die N4-tolhek tussen Middelburg en Witbank, in ’n aanval gewond.
Die vrou het bebloed agter die stuurwiel ingespring en daarin geslaag om met hul drie kinders in die motor weg te jaag.
Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê die egpaar is Vrydagaand, toe hulle by die hek van hul plaas in Witbank aankom, deur drie onbekende mans begroet.
Die mans het een of meer vuurwapens by hulle gehad.
Die vrou se man het bestuur en het uit die egpaar se Toyota-motor geklim om die hek na hul plaas oop te maak.

Brig. Leonard Hlathi
Hy is geskiet terwyl hy daarmee besig was.
“Drie skote is afgevuur. Die vrou is twee keer raakgeskiet – in haar hand en haar rug.
“Sy het agter die stuurwiel ingespring en weggejaag met haar drie kinders wat agter in die motor was.”
Hlathi sê die man is een keer raakgeskiet. Dit is in dié stadium nog onduidelik waar aan sy lyf die man geskiet is, en of hy vir sy vrou die opdrag gegee het om van die toneel af weg te jaag.
Netwerk24 verneem die vrou het in die rigting van die N4-tolhek gery, waar sy te hulp gesnel is.
Hlathi sê sowel die man as sy vrou is in ’n plaaslike hospitaal opgeneem vir behandeling.
“Ek is nog nie seker hoe nie, maar die man het later by sy gesin by die hospitaal aangesluit.”
Volgens Hlathi word alle leidrade deur die polisie ondersoek en hulle sal vandag verklarings by die egpaar afneem.
Die drie vermeende aanvallers is steeds soek.