Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Russiese toeriste se huurmotor met klippe op N2 bestook
Die beskadigde voorruit van die Russiese toeriste se huurmotor. Foto: Renier Pelser/Facebook

Eers is twee Russiese toeriste se huurmotor naby George met klippe bestook en toe kon hul vliegtuig weens ’n tegniese probleem nie dadelik op die O.R. Tambo internasionale lughawe in Johannesburg land nie.

Past. Renier Pelser, sekretaris-generaal van die Volle Evangelie Kerk van God in Suidelike Afrika, sê hy en ’n groep lidmate het die toeriste Maandag op die George-lughawe teëgekom.

Pelser-hulle was op pad terug Johannesburg toe nadat hulle moderatuur-opleiding in Hartenbos gedoen het.

Volgens hom het hulle gesien hoe die gehuurde BMW by die lughawe aankom “met ’n gat in die voorruit”.

Die toeriste het vertel ’n groep mense het op die N2 buite George glo ’n baksteen gegooi en die motor se voorruit getref.

“Die vrou het verskriklik gehuil. Ons het haar probeer troos en probeer oortuig dit is nie so erg nie,” sê hy.

Volgens hom wou die Russe niks weet nie. Hulle sou Kaapstad toe gaan, maar het hul reisplanne verander en was op pad huis toe.

Hulle was almal op dieselfde FlySafair-vlug toe die vliegtuig aanvanklik nie op die O.R. Tambo-lughawe kon land nie, glo weens ’n hidrouliese probleem met die landingsgereedskap. Die passasiers is aangesê om hulself te stut (brace). Dit het die toeriste nog verder getraumatiseer.

“Hulle het gesê hulle kom nooit weer terug Suid-Afrika toe nie.”

Volgens hom het die twee ’n vlug Amsterdam toe gehaal.

Pelser het oor die voorvalle op Facebook geskryf en mense gevra om vir Suid-Afrika te bid.

Die FlySafair-vliegtuig Maandag op die O.R. Tambo internasionale lughawe. Foto: Renier Pelser/Facebook

“Ons kan nie bekostig dat sulke goed gebeur nie,” sê hy. “Met Covid-19 het ons toeriste baie nodig.”

First Car Rental in George wie se motor dit is het by navraag die voorval bevestig en gesê “die skade is groot”.

Kirby Gordon, FlySafair-woordvoerder, sê daar was Maandag ’n klein voorval op ’n vlug, maar geen noodgeval is verklaar nie.

Luidens ’n verklaring het vlug FA221 (’n Boeing 737-400) van George na Johannesburg gevlieg. Die vliegtuig moes eers sirkel voordat dit uiteindelik kon land.

Die vlug het om 13:47 in George opgestyg en sonder voorval na Johannesburg gevlieg. Naby O.R. Tambo het die bemanning egter ’n aanduiding gekry van ’n moontlike tegniese kwessie. Die vliegtuig het een keer om die lughawe gesirkel en die bemanning het die toring verwittig. Die passasiers is gevra om ’n stutposisie in te neem as voorsorgmaatreël.

Die waarskuwing het verband gehou met een van twee hidrouliese stelsels. Die vliegtuig het om 15:47 sonder voorval geland. As standaardpraktyk het reaksievoertuie die vliegtuig ingewag.

Voorlopige bevindings dui daarop dat ’n “aanwyser-fout” voorgekom het. Dit gebeur waar sensitiewe vliegtuig-sensor-gereedskap ’n vals aanwysing gee van ’n moontlike probleem.

Nadat die vliegtuig geland het, was daar ’n klein hoeveelheid hidrouliese vloeistof op die aanloopbaan sigbaar.

Die vliegtuig is gehok en word ondersoek. FlySafair het die passasiers om verskoning gevra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.