Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Rykstes vlug vir misdaad

Nege dollar-miljardêrs, diegene met netto bates van $1 miljard en meer, is die afgelope dekade sak en pak landuit, hoofsaaklik om veiligheidsredes.

Dit laat die land met ’n skamele vyf ultrarykes, blyk uit die nuutste welvaartverslag van die navorsingsgroep New World Wealth (NWW) en Afrasia Bank wat Woensdag uitgereik is.

Dié huis in Kampsbaai aan die Atlantiese kus in Kaapstad met ’n onbelemmerde uitsig op die berg en see is onlangs vir R20 miljoen deur Pam Golding Properties aan ’n inwoner van Johannesburg verkoop. Dit het ses slaapkamers en ’n hysbak.

Dit is nie net die ultrarykes wat die groener weivelde van Brittanje, Australië, Amerika, Switserland en Portugal gaan opsoek het nie. Ook sowat 3 000 mense met netto bates van $1 miljoen (sowat R14 miljoen) en meer is die afgelope tien jaar vort.

Van einde 2017 tot einde 2018 het die getal rykes in die $1 miljoen-kategorie van 43 600 tot 39 200 afgeneem. Diegene met netto bates van $10 miljoen het in dié tyd van 2 200 tot 2 070 afgeneem en dié met netto bates van $100 miljoen en meer van 98 tot 94.

Peperduur blyplekke

Kampsbaai en Bakoven aan die Atlantiese kusgebied in Kaapstad het die grootste konsentrasie van superduur huise in die land. 

Dié woonbuurte saam het 180 huise ter waarde van R20 miljoen of meer elk.

Dit kom neer op R55 000 per vierkante meter. 

Dan volg Plettenbergbaai aan die Tuinroete met 130 van dié huise en Umhlanga aan die noordkus van KwaZulu-Natal met 120. Clifton het 100 en so ook Sandhurst, die rykste buurt in Johannesburg. 

Die buurte sluit ook eksklusiewe landgoedontwikkelings in en volgens die syfers van New World Wealth woon meer as 40% van die land se rykes op die landgoedere of besit ’n tweede blyplek daar.

Andrew Amoils, hoof van navorsing van NWW, sê die twee vernaamste redes vir die uittog is kommer oor veiligheid in die lig van gewelddadige misdaad wat die hoogte ingeskiet het en ’n gebrek aan sakegeleenthede.

Die dreigende kwessie van grondverdeling sonder vergoeding het ook ’n rol gespeel en so ook die moontlike Nasionale Gesondheidsorgversekering.

’n Groot persentasie van die land se welvaart is saam met die rykes landuit. Die totale private welvaart wat gehou word deur inwoners het met 10% getuimel van $722 miljard in 2017 tot $649 miljard in 2018. Dit sluit in al hul bates, eiendom, kontant, ekwiteit en sakebelange.

“Die afname in welvaart in die land is vererger deur die skerp daling van die rand, wat 2018 op R14,40 teenoor die dollar afgesluit het, en ’n steierende eiendomsmark, waar huispryse in 2018 in dollarterme 5% laer was as in 2017,” sê Amoils.

Die JSE se indeks van alle aandele het in die jaar met 29% in dollarterme gedaal.

Johannesburg bly die stad met die grootste welvaart en die meeste rykes.

Inwoners van die Goudstad het totale welvaart van $248 miljard. Die stad het 16 600 inwoners met netto bates van $1 miljoen of meer en 870 met netto bates van $10 miljoen of meer.

Inwoners van Kaapstad se welvaart beloop $133 miljard en daar is 7 100 met netto bates van $1 miljoen en meer en 420 met netto bates van $10 miljoen of meer.

In Durban, Ballito en Umhlanga woon 3 300 mense met netto bates van $1 miljoen of meer en 210 met netto bates van $10 miljoen of meer.

* Dit is die welvaartmark wat die afgelope dekade die sterkste groei van 25% behaal het, sê Amoils. Dan volg die Paarl, Franschhoek en Stellenbosch in die Kaapse Wynland met 2 800 inwoners met netto bates van $1 miljoen en meer en 160 met netto bates van $10 miljoen en meer. NWW het ’n omvattende databasis van rykes wat verkry is uit maatskappy- en direkteursdatabasisse, asook toegang tot databasisse van luukse goedere.

Luukse kopies

Die sektor vir luukse goedere in die land het in 2018 ’n inkomste van sowat $2,1 miljard gegenereer.

Die luukse kategorie sluit in besteding aan voertuie, private stralers, seiljagte, hotelle en wildlodges. 

Hoewel die verkope van luukse voertuie in 2018 afgeneem het teenoor die vorige jaar, vaar die luukse nutsvoertuigmark steeds baie goed.

Die gewildste nutsvoertuie onder rykes is die Rolls-Royce Cullinan, die Bentley Bentayga en die Lamborghini Urus.

Rykes se gunsteling-hotelle sluit in die Twelve Apostles Hotel & Spa in Kampsbaai, The Palace of the Lost City in Sun City, die Mount Nelson in Kaapstad en The Oyster Box in Umhlanga. Gesogte wildlodges is onder meer Londolozi, die Ngala-tentkamp en Savanna Lodge.

Dol op passie-beleggings

Rykes blaas jaarliks miljoene rande op sogenaamde passie-beleggings - klassieke motors, kuns, wyn en horlosies.

Die globale kunsmark het tans ’n waarde van sowat $75 miljard, waarvan kuns met ’n waarde van $460 miljoen in Suid-Afrika gehou word.

Die gevierde Irma Stern bly die land se waardevolste kunstenaar. Die gemiddelde prys per skildery is sowat R5 miljoen, maar van die werke is al vir tot R35 miljoen verkoop. 

Volgens New World Wealth se syfers het Suid-Afrikaanse kunspryse die afgelope tien jaar met 33% gestyg. 

Die pryse van klassieke motors het in dieselfde tyd met ’n stewige 150% in dollarterme gestyg, wat dit die toppresterende passie-beleggingsklas vir rykes maak.

Meer oor:  Afrasia Bank  |  Misdaad  |  Emigrasie  |  Eiendomme  |  Rykes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.