Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SA glo ’n ‘rampokkersnes’

In die desperate soeke na onwettige sigarette het sommige Suid-Afrikaners bedrae van R10 000 of R12 000 vir hul “handelaar” uitgehaal sonder om ’n enkele sigaret daarvoor te kry.

Byron Bernard, direkteur van The Human Rights Front of South Africa, protesteer teen die sigaretverbod. Foto: Deaan Vivier

Mense wat tydens die virusinperking sigarette wou bekom en toe ingeloop is, het skaapagtig kom vra of hulle hul geld sal kan terugkry, sê die privaatspeurder Mike Bolhuis.

Maar daar is ook vele transaksies tussen sigaretkopers en -verkopers wat seepglad verloop. Trouens, sigarette word oor die land heen gekoerier, het Bolhuis aan Rapport gesê.

Mense is bereid om baie geld vir ’n voorraad sigarette uit te haal en sal derduisende rande opdok.

Die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) het Vrydag misluk in sy aansoek in die Pretoriase hooggeregshof om die verkoop van tabakprodukte en sigarette wettig te verklaar.

Fita het in sy aansoek gesê tabak-bootleggers maak miljoene rand terwyl sigaretverkope tydens die Covid-19-inperking verbied word.

Die hof het bevind die “realiteit” van die onwettige sigarethandel is nie “fataal” vir die rasionaliteit van die sigaretverbod nie.

Bolhuis sê die sigaretboewe adverteer blatant op sosiale media en op WhatsApp. Die bostelegraaf versprei ook inligting oor waar om sigarette te kry.

“Daar is hordes sigaret-scams.”

Hannes Snyders, ’n ondersoeker by Bolhuis se onderneming en hul skakel met die polisie, sê: “Die land is op die oomblik ’n rampokkersnes. Jy kan enigiets doen wat jy wil. Solank jy net geld het, en betaal en georganiseerd is met die regte kanale, kan jy hier maak net wat jy wil.”

Koos Gerber, hoof van dwelmondersoeke by Bolhuis se onderneming, sê die polisie konsentreer op die hoofweë met hul padversperrings. “Daar is nie padversperrrings op die agterpaaie nie.”

Hy het byvoorbeeld met agterpaaie na Brits en Ventersdorp gery waar daar nie padversperrings was nie. “Dis ’n maklike manier om goed deur te smokkel.”

Cecil Benadé, ook ’n ondersoeker, sê die polisie het hul “fokus verloor” met die padblokkades by die provinsiale grense. “Hulle worry net oor jou masker en jou permit. Mense ry deur met vuurwapens. Dit is hoe vuurwapens oor die grense kom wat in rooftogte gebruik word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.