Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘SA moenie so leef’

Sy eie kop moet rol as die polisie nie daarin kan slaag om misdaad hok te slaan nie, het Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag gesê.

Hy het op ’n mediakonferensie in Kaapstad, waar die misdaadsyfers vir 2017-’18 bekend gemaak is, na die skerp stygende moordsyfer verwys en gesê dit maak van Suid-Afrika “byna ’n oorlogsone”.

“Ons sal nooit weer sulke syfers kom bekend maak nie. Suid-Afrikaners behoort nie in vrees en onder stres soos hierdie te leef nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, gister voor die parlementêre staande komitee vir veiligheid. Foto: jaco maraiS

Hy het gesê daar sal weer na alle prestasieooreenkomste met die polisie se topbestuur gekyk moet word.

Elkeen het ’n ooreenkoms met hom onderteken en hy het een met die president onderteken.

“So, namens die regering van Suid-Afrika plaas ek die polisie se koppe op die blok om seker te maak Suid-Afrikaners word bedien.”

Die land het egter volgens hom nog nie ’n vlak van wetteloosheid bereik nie.

Maar die polisie beleef ’n kritieke tekort aan polisielede – 62 000. Volgens Cele was daar in 2010 200 000 polisielede teenoor die huidige 190 000. En dan het die bevolking met meer as 3,3 miljoen tot 57,3 miljoen gegroei.

Volgens lt.genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, is daar boonop sowat 11 miljoen “ongedokumenteerde immigrante” in die land.

Volgens die misdaadstatistieke word 56 mense daagliks vermoor – waarvan gemiddeld 46 mans, agt vroue en twee kinders is.

Altesaam 20 336 moorde is in die 2017-’18-boekjaar aangemeld teenoor 19 016 in die vorige boekjaar. Dit is ’n toename van 1 320, oftewel 6,9%.

Die moordkoers het oor die afgelope ses jaar met 17% gestyg.

Die meeste moorde is in KwaZulu-Natal (4 382) gepleeg, gevolg deur Gauteng (4 233), die Oos-Kaap (3 815) en die Wes-Kaap (3 729), Vrystaat (1 054), Noordwes (950), Mpumalanga (922), Limpopo (911) en die Noord-Kaap (340).

Ander syfers wat skokkende stygings getoon het, sluit in transitorooftogte, bankrooftogte en seksuele misdade, wat ’n styging van 207 voorvalle van verkragting insluit. Meer as 40 000 verkragtings is aangemeld.

Cele het toegegee dat die polisie “die bal laat val het” wat betref vroue wat misdade by die polisie aanmeld.

Sitole het gesê die syfers vir plaasmoorde word op versoek vanjaar afsonderlik bekend gemaak.

62 moorde is volgens die polisie gepleeg op plase en kleinhoewes waarop geboer word.

Van dié slagoffers was 49 die eienaars of bewoners, nege was plaaswerkers en een was ’n plaasbestuurder.

12 van die vermoordes het op plase in Gauteng gesterf.

Daarna volg Noordwes met nege sterfgevalle en Mpumalanga met agt.

TLU SA sê volgens sy statistieke was daar 70 plaasmoorde – nie 62 nie. “Hierdie verskil van sowat 10%, sowel as die noodsaaklikheid om uit een mond te praat oor ’n onderwerp wat toenemende internasionale aandag trek, vereis konsolidasie,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA.

Die DA het in sy reaksie gesê die ANC-regering verloor die stryd om Suid-Afrikaners veilig te hou, berig Sarel van der Walt.

Zakhele Mbhele, die party se woordvoerder oor polisie, het gesê terwyl die regering “gemiddeld R9,1 miljoen per persoon” opdok om hooggeplaastes te beskerm, bestee die polisie net R1 500 per persoon om gewone Suid-Afrikaners te beveilig.

Dit wys die regering is meer bekommerd oor die veiligheid van die elite as oor die veiligheid van die gemeenskap.

Meer oor:  Tlu Sa  |  Sapd  |  Bheki Cele  |  Polisie  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.