Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SA moet sekuriteit ernstig opneem - weermag
Nosiviwe Mapisa-Nqakula Foto: Doreen Mokgolo

Suid-Afrikaners moet sekuriteit ernstig begin opneem, anders gaan hulle jammer wees, het genl. Solly Shoke, hoof van die weermag, Vrydag gewaarsku.

Hy het op ’n mediakonferensie by die parlement sy stem by dié van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging en militêre veterane, gevoeg wat in haar begrotingsrede vir die 2018-’19-boekjaar die krimpende begroting van haar departement betreur het.

“Dieselfde mense wat sê besnoei, is diegene wat sê gaan help die mense in die Noordwes waar daar ’n krisis is,” sê Shoke.

“Mede-Suid-Afrikaners, dit is tyd dat julle begin om sekuriteit ernstig op te neem, anders gaan dit (die besnoeiings) berou word. Die skade wat die onderfinansiering van die weermag doen, sal in later jare duidelik word en dit kan dan dalk te laat wees. Dit is ’n wanbegrip om te dink daar is geen bedreiging teen Suid-Afrika nie,” sê hy.

Mapisa-Nqakula het dit betreur dat haar departement se begroting ondanks gesprekke met die nasionale tesourie en die departement van beplanning, monitering en evaluering in die huidige boekjaar met R5,8 miljard besnoei is.

Sy het spesifiek verwys na die R3,2 miljard-tekort in die toekenning vir die vergoeding van personeel.

“Verdediging behoort deur sy mandaat gedryf te word en nie deur die begroting, soos tans die geval is nie,” het sy gesê.

Mapisa-Nqakula sê daar word nie net van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) verwag om Suid-Afrika te verdedig en te beskerm nie, maar ook dat hy vinnig by krisisse op die vasteland kan ingryp. Hy moet ook onder meer aan vredesoperasies deelneem en baie internasionale verpligtinge nakom.

“Agbare lede, dié vlak van ambisie is nie volhoubaar met die huidige finansiering nie. Ek wil herhaal wat ek verlede jaar gesê het: Suid-Afrika het nou die punt bereik waar hy moet besluit watter tipe weermag hy wil hê en wat hy kan bekostig.”

As die departement se finansiering in die afsienbare toekoms op ’n afwaartse trajek gaan bly, sal dringende stappe gedoen moet word om die departement te stabiliseer.

“Ons moet dramatiese maatreëls tref om te verseker dat die weermag volhoubaar kan funksioneer binne die verlaagde toewysing. Ek het die departement opdrag gegee om geteikende ingrypings te formuleer om korttermyn volhoubaarheid te bereik. Dié ingrypings moet die minste moontlike ontwrigting aan die gevegseenhede verseker,” het sy gesê.

Sy het op die mediakonferensie gesê die departement is nie uitdagend nie, maar dit bly vir haar ’n “groot probleem” dat weermagpersoneel verminder moet word.

Meer oor:  Solly Shoke  |  Sa  |  Sekuriteit  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.