Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SA se moordsyfer vergelykbaar met Sirië, sê IRV

Suid-Afrika se moordsyfer is so hoog dat dit vergelyk kan word met oorloggeteisterde lande soos Sirië.

Die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) het Donderdag so gereageer nadat Bheki Cele, minister van polisie, en die topstruktuur van die polisie onder leiding van Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, die nasionale misdaadstatistieke vir die 2018-’19-boekjaar in die parlement bekendgemaak het.

Alle kontakmisdade, wat moord en seksuele misdade insluit, het toegeneem.

Die IRV het luidens ’n verklaring gesê die land se misdaadkrisis is soortgelyk aan dié van ’n lae-intensiteit-burgeroorlog. “Op ’n per capita-grondslag ding dit mee met syfers in plekke soos die oorloggeteisterde Sirië. Dit is geen oordrywing nie om op grond van die aantal mense wat jaarliks vermoor word te sê dat Suid-Afrika deur ’n krisis in die gesig gestaar word wat soortgelyk is aan ’n lae-intensiteit-burgeroorlog.”

Bheki CeleFoto: JACO MARAIS

Die moordsyfer – die hoogste in tien jaar – het met 3,4% gestyg nadat altesame 686 meer moorde die afgelope boekjaar teenoor die vorige boekjaar gepleeg is.

Altesaam 21 022 moorde is in die 2018-’19-boekjaar gepleeg teenoor 20 336 in die 2017-’18-boekjaar.

Huisrooftogte, een van die misdade wat Suid-Afrikaners die meeste vrees, het gestyg met 1,8% tot 22 431 voorvalle wat by die polisie aangemeld is.

Seksuele misdrywe het met 4,6 % toegeneem tot 52 420 vanaf 50 108 in die vorige boekjaar.

Altesaam 47 moorde het landwyd op plase en kleinhoewes plaasgevind.

Veediefstal is ook aan die styg – so erg dat sommige shishanyamas (braairestaurante in townships) en selfs sommige hospitale gesteelde vleis gebruik, het Cele gesê. Dié misdaad het met 2,9% van 28 849 voorvalle in die 2017-’18-boekjaar tot 29 672 in die jongste boekjaar toegeneem.

Moorde het die afgelope boekjaar hoofsaaklik oor naweke plaasgevind – Saterdae tussen 21:00 en middernag en Sondae in die vroeër oggendure vanaf middernag tot 03:00. In verreweg die meeste gevalle – 7 156 – is vuurwapens gebruik om die moorde te pleeg, gevolg deur messe (4 720) en skerp voorwerpe (1 552).

Die 14 polisiekantore landwyd waar die meeste moorde gepleeg is, is in die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal. Heel boaan die lys is Nyanga, gevolg deur Delft, Khayelitsha, Inanda, Philippi-Oos, Mthatha, Umlazi, Harare, Plessislaer, Guguletu, Mfuleni, Kraaifontein, Mitchells Plain en Bishop Lavis.

Geskille of misverstande, gesinsgeweld en bendeverwante oorsake is onder die hoofredes vir moord, poging tot moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Cele het op ’n mediakonferensie by die parlement daarop gewys dat die moordsyfer in die 2017-’18-boekjaar met 1 320 toegeneem het, terwyl dit in jongste boekjaar met 686 gestyg het.

Volgens hom beteken dit dat die vlakke van toename besig is om af te neem. Hy het ook daarop gewys dat alle kategorieë onder roof met verswarende omstandighede afgeneem het, behalwe vir roof by wooneiendomme waar daar ’n toename van 0,8% was.

“Terwyl ons nie is waar ons wil wees nie, is ons beslis nie waar ons was nie – daar is ’n flikkering van verbetering. Ons het afnames in misdade soos transitorooftogte, bankrooftogte, motor- en vragmotorkapings gehad, sowel as rooftogte by nieresidensiële eiendomme.”

Terwyl ons nie is waar ons wil wees nie, is ons beslis nie waar ons was nie – daar is ’n flikkering van verbetering. Ons het afnames in misdade soos transitorooftogte, bankrooftogte, motor- en vragmotorkapings gehad, sowel as rooftogte by nieresidensiële eiendomme.

Op ’n vraag oor hoe die polisie die moordsyfer gaan verminder, het Cele gesê sekere stappe is in die verlede gedoen waarna weer gekyk moet word.

Dit sluit in om sekere eenhede wat voorheen ’n impak gehad het weer in die lewe te roep, metodes te vind om meer met nieregeringsorganisasies en die samelewing in geheel saam te werk, maar ook om as ’n groep polisiekantore saam te werk omdat dit “baie beter werk”.

Die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) glo Suid-Afrika moet dringend programme vir die voorkoming van geweld instel. Gareth Newham, hoof van geregtigheid en geweldvoorkoming, het gesê die meeste gewelddadige gedrag word tuis en in gemeenskappe aangeleer.

“Programme om geweld te voorkom is die sleutel tot die vermindering van misdade wat nie gepolisieer kan word nie.”

Andrew Whitfield, DA-LP, het in ’n verklaring gesê die misdaadstatistieke is ’n aanklag op die polisie en dui duidelik daarop dat die polisie en die ANC-regering nie in staat is om gemeenskappe veilig te hou nie.

“Dié bloedstollende statistieke en die slagoffers agter die syfers gooi koue water op pres. Cyril Ramaphosa se belofte om geweldsmisdaad oor die volgende tien jaar te halveer.”

Dié bloedstollende statistieke en die slagoffers agter die syfers gooi koue water op pres. Cyril Ramaphosa se belofte om geweldsmisdaad oor die volgende tien jaar te halveer.

Die IVP het op sy beurt die idee verwerp dat die styging in geweld en misdaad in Suid-Afrika net toegeskryf kan word aan drank- en dwelmmisbruik oor naweke.

“Dit is onverskoonbaar om Suid-Afrikaners tot blote weekend specials te verlaag, terwyl die polisie saam met ander ministers in die veiligheidsgroepering aanhou om op hul hande te sit terwyl die voorkoms van misdaad toeneem pleks van afneem,” het Zandile Majozi, IVP-LP, Donderdag gesê.

Agri SA het sy kommer uitgespreek oor die aantal plaasmoorde. Die organisasie het gesê hoewel die syfer van 47 plaasmoorde ’n daling is van die 62 plaasmoorde in die vorige boekjaar, bly dit enorm en kom dit neer op byna vier moorde per maand.

misdaad
Misdaadstatistiek: Nasionaal

Meer oor:  Misdaadstatistiek  |  Moordsyfer  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.