Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘SA verloor stryd teen ernstige misdaad’

Suid-Afrika word al hoe gewelddadiger én verloor sy stryd teen ernstige misdade soos moord, motorkapings en roof met verswarende omstandighede.

Dít was Vrydag die reaksie van die VF Plus en die DA nadat Bheki Cele, minister van polisie, en Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, die misdaadstatistieke vir 2019-’20 in Pretoria bekend gemaak het.

Bheki Cele Foto: SON

Cele het gesê dié statistieke sal voortaan kwartaalliks bekend gemaak word en nie meer jaarliks nie.

Moord het volgens die jongste statistieke met 1,4% teenoor die vorige jaar gestyg. Sowat 21 325 moorde is aangemeld.

Cele sê Nyanga, Kaapstad, is vir die eerste keer in jare ook nie meer Suid-Afrika se moordhoofstad nie. Dié titel word nou deur twee ander Kaapse polisiegebiede, Delft en Khayelitsha, gedra.

Dit word gevolg deur Inanda en Umlazi in KwaZulu-Natal, en dan deur Nyanga wat op vier na die hoogste moordsyfer in die land aangeteken het. Die meeste verkragtings is ook in Inanda en Umlazi aangeteken.

Cele sê die 30 polisiekantore waar die meeste ernstige misdade aangemeld is, is onderskeidelik in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap en die Wes-Kaap.

Die statistieke dui ook daarop dat die meeste Suid-Afrikaners, sowat 9 714, in dié tydperk in openbare plekke soos op straat, in oop velde, in ontspanningsentrums, parkeergebiede en verlate geboue vermoor is.

Sowat 5 522 mense is in hul eie huise of dié van hul moordenaars vermoor.

Cele sê die polisie sal sy veldtog teen geslagsgeweld verder versterk veral omdat seksuele oortredings met 1,7% gestyg en 53 293 voorvalle aangemeld is.

In dié tydperk is 2 695 vroue en 943 kinders ook vermoor.

Dit is volgens Cele kommerwekkend dat 380 verkragtings in dié tydperk by skole, universiteite, kolleges of dagsorgsentrums aangemeld is.

Daarby het roof met verswarende omstandighede ook met 2,8% toegeneem tot 143 990 voorvalle.

Motorkapings, een van die misdade wat Suid-Afrikaners die ergste vrees, het ook met 13,3% gestyg.

Genl. Khehla Sitole
Genl. Khehla Sitole

Sitole het Vrydag in die parlement gesê die polisie sal sy fokus in dié verband skuif na misdaadsindikate wat grootliks daarvoor verantwoordelik is.

Rooftogte by huise, op sakepersele en huisinbrake het afgeneem.

“As mense veilig voel in hul huise, bou en versterk dit die vertroue in die polisie en regstelsel,” het Cele daaroor gesê.

Intussen sê die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) Suid-Afrika benodig geteikende polisie-ingrypings om die endemiese en hardnekkige hoë vlakke van veral moord en gewapende roof te verminder.

“Met die moordvlak van 36 per 100 000 wat onveranderd die afgelope jaar gebly het, is daar effens hoop dat dié soort misdaad in die geheel stabiliseer. Moord het egter met 10,6% toegeneem in KwaZulu-Natal en met 5% in Mpumalanga,” het Gareth Newham, die ISS se hoof van justisie en geweldsvoorkoming, gesê.

Volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, kom die getal moorde neer op 58,4 moorde per dag teenoor die wêreldgemiddelde van sewe vir elke 100 000 mense.

Hy meen kontakmisdade het vir die derde agtereenvolgende jaar toegeneem en dit is duidelik ’n rede waarom mense so onveilig in Suid-Afrika voel.

Andrew Whitfield, DA-woordvoerder oor polisie, het bygevoeg die moordvlakke is weer die hoogste in tien jaar, terwyl die statistieke toon dat 115,8 mense daagliks in Suid-Afrika verkrag word.

“Die misdaadstatistieke is ’n aanklag teen die polisie en spesifiek die minister wat meer bekommerd is oor drank en sigarette as oor geweldsmisdadigers.”

Claire Taylor van Gun Free South Africa het gesê dit is “skandalig” dat 45% van alle moorde gepleeg is met vuurwapens wat streng in Suid-Afrika gereguleer word.

Meer oor:  Khehla Sitole  |  Bheki Cele  |  Stryd  |  Verloor  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.