Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sake ondersoek ná 6 in Pretoria ontvoer en gestenig is

In minstens nege gevalle is petroljoggies of veiligheidswagte in Pretoria wreed vermoor nadat hulle gevra is om ’n “motoris in nood” te help.

Soms sou die “motoris” hul hulp vra om sy kar te stoot.

Die slagoffers is dan ontvoer en in sommige gevalle is hulle dae lank aangehou en ’n losprys van tussen R2 000 en R3 000 is van hul families geëis.

Dit maak egter nie saak of hul families die geld bymekaargeskraap het of nie – die slagoffers is meestal op ’n berg naby Eersterust, oos van Pretoria, aan ’n boom vasgebind en met klippe doodgegooi en -geslaan.

Ses mense is so vermoor.

Op 8 Januarie is Wellington Kachidza (26), ’n Zimbabwiër wat in Atteridgeville, wes van Pretoria, woon, in verband met dié ontvoerings, rooftogte en moorde in hegtenis geneem.

Intussen is Stephen Nyaguru, ook ’n Zimbabwiër wat in Eersterust bly, en Aemando Marcalino Bacar van Mosambiek in verband met ander voorvalle waarin twee mans ontvoer, beroof en met “groot” klippe oor die kop geslaan is, in hegtenis geneem.

Beide sake het Dinsdag afsonderlik in die landdroshof in Pretoria voorgekom.

Sipho Letsoalo, die aanklaer, het in die hof gesê dat die sake vermoedelik met mekaar verband hou en dalk deel is van die reeks moorde wat sedert verlede jaar in Pretoria gepleeg word.

’n Uitkenningsparade sal gehou word om te kyk of die oorlewendes van hierdie voorvalle dalk die drie beskuldigdes as hul aanvallers kan uitken.

“Die ondersoeke is ook nog nie afgehandel nie, en daar word na nog verdagtes gesoek, wat beteken dat daar dalk (nog) ’n reeksmoordenaar(s) daar buite is,” het die aanklaer gesê.

Albei die sake is vir verdere ondersoek tot Junie uitgestel.

Luidens die voorlopige klagstaat staan Kachidza op vier aanklagte van ontvoering, roof met verswarende omstandighede en moord tereg.

Volgens die klagstaat het hy na bewering ene R. Maphiri op 8 Oktober verlede jaar by ’n BP-vulstasie in Sunnyside ontvoer. Die slagoffer is tot 16 Oktober aangehou en van sy beursie en selfoon beroof. Toe is hy na bewering aan ’n boom vasgemaak en gestenig.

Op 25 November 2019 is Tebatso Mogoatlho ontvoer, ook iewers aangehou en van sy beursie en selfoon beroof, en op 18 Desember soos Maphiri vermoor.

Op 4 Desember is Jonas Mekgabo in Sunnyside ontvoer, ook na ’n onbekende bestemming geneem en later soos die ander met klippe doodgegooi.

Steve Masingo is op 15 Desember by ’n Caltex-vulstasie in Pretoria-Sentraal ontvoer. Sy lot was dieselfde toe hy voor of op 8 Januarie vermoor is.

Nog twee lyke is later gevind en dié slagoffers se sake sal later tot die klagstaat gevoeg word.

Terwyl die polisie hierdie moorde ondersoek het, is Nyaguru op 31 Desember 2019 in verband met die ander saak in hegtenis geneem.

Op 11 Januarie is Bacar as Nyaguru se vermeende medepligtige in hegtenis geneem.

Dit was toe dat die ooreenkomste tussen die sake, sowel as met die oorlewendes se weergawes aan die lig gekom het.

Meer oor:  Pretoria  |  Veiligheidswagte  |  Moord  |  Petroljoggie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.