Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sakeman geskiet toe hy vermeende kapers aanvat

’n Sakeman van Port Elizabeth is Dinsdagoggend minstens twee keer raakgeskiet toe hy tot die redding van ’n vragmotorbestuurder gekom het wat midde-in ’n kapingsvoorval was.

Die voorval het omstreeks 09:10 in Govan Mbeki-rylaan gebeur nadat Sheldon Muthasamy (48), eienaar van Sheldon’s Motor Spares, die kapingsvoorval oorkant die pad van sy onderneming gesien het.

Die polisie soek Dinsdagmiddag nog vir leidrade op die toneel in Govan Mbeki-rylaan waar ’n sake-eienaar raakgeskiet is toe hy ’n kaping wou voorkom. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Hy het ingekom en gesê ‘gee my sak vir my’. Hy het sy yster (wapen) uitgehaal en in sy heup gedruk en die pad oorgesteek,” sê Sheldon Allison, ’n werknemer van Muthasamy.

Muthasamy het op die vermeende kapers geskree, waarna drie van hulle laat spaander het.

“Die volgende oomblik het die skote links en regs geklap.”

Allison, wat die voorval van die onderneming se ingang af aanskou het, sê die groep vermeende kapers het eerste op Muthasamy geskiet, en hy het daarna teruggeskiet.

Hy sê Muthasamy is in die middel van die pad die eerste keer raakgeskiet. “Die skoot in die been het hom laat val. Dit is toe dat ek na hom toe hardloop om hom te help. Die mense het net aanhou skiet van bo af iewers. Hy het ook nie bly lê nie, hy het op sy heup gedraai en teruggeskiet, toe hardloop hulle weg.”

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het die 42-jarige bestuurder van ’n koeriervragmotor en sy 19-jarige passasier die oggend in die straat stilgehou om elkeen te voet pakkies by kliënte af te lewer.

’n Polisiebeampte fynkam dié bakkie naby die toneel in Govan Mbeki-rylaan vir moontlike vingerafdrukke van die vermeende kapers. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Terwyl die bestuurder na die voertuig teruggestap het, is hy deur ’n onbekende man van agter oorval wat hom met ’n vuurwapen gedreig en aangesê het om die voertuig se sleutel te oorhandig.”

Nog drie kapers het nader gestaan. Dit was op dié oomblik dat Muthasamy die kaping van oorkant die pad gesien het.

Volgens Allison is Muthasamy ’n oudpolisielid met nie ’n bang haar op sy kop nie.

“Hy ken die misdadigers in die gebied en het dadelik geweet wat daar aan die gebeur is.

“Sonder om twee keer te dink het hy die mense gaan help, en daar word hy raakgeskiet,” sê Allison.

Muthasamy is in die Livingstone-hospitaal opgeneem en sou Dinsdagmiddag geopereer word.

Naidu sê die kapers het niks gebuit nie.

’n Saak van poging tot moord en poging tot kaping word ondersoek.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Misdaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.