Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sakevrou, ma van Polokwane het 'voluit gelewe'
Hettie Deacon (links) saam met haar dogter Lizette. Foto: Facebook

Lizette Deacon (55) en haar ma, Hettie (79), die twee sakevroue van Polokwane wat verlede week grusaam vermoor is, was twee formidabele vroue wat voluit gelewe het.

Hulle albei het nie net diep spore in hul gemeenskap gelaat nie, maar was ook bekend vir hul lewenslus. Stilsit was iets wat hulle nie kon doen nie, sê mense wat hulle geken het en gedeel het in hul lewensvreugde.

“Niemand verdien wat met hulle gebeur het nie,” sê Dia van Staden, Lizette se vriendin van haar kollege-dae af.

Lizette en Hettie is verlede Donderdagmiddag in hul meenthuis in die Alpetra-kompleks in Welgelegen-woonbuurt oorval. Hulle het in Maart daar ingetrek.

Niemand verdien wat met hulle gebeur het nie.

Die moordenaar(s) het hulle in die bagasieruim van ’n wit Honda-sportnutsvoertuig gelaai en weggery. Hul lyke is later in die motor in ’n veld naby die Chuenespoortdam, sowat 35 km suid van Polokwane, gevind.

Lizette was die eienaar van die twee takke van Ocean Basket in onderskeidelik die Savannah Mall en die Mall of the North in Polokwane.

Die lewenslustige Lizette Deacon.

Volgens Van Staden was Lizette ook die mede-eienaar van drie ander Ocean Basket-restaurante. “Haar vinger was altyd op die pols van haar besigheid en sy het daarin geglo om mense altyd ’n derde en vierde kans te gee,” sê Van Staden.

Sy en Lizette het in die tagtigerjare saam onderwys studeer aan die kollege in Potchefstroom. Naweke het hulle in Klerksdorp gaan kuier by Lizette se familie.

Volgens die Deacon-familie het Lizette vir meer as drie dekades in Polokwane gewoon. Sy het eers twee jaar op Thabazimbi skoolgehou en toe by die Laerskool Pietersburg-Noord.

“Ek was namens die kinders ontsteld toe sy die onderwys verlaat het,” sê Van Staden.

Rita Erasmus, nog ’n goeie vriendin van Lizette, sê hulle het van 1985 af saam skoolgegee. “Lizette was ’n vrolike mens, almal het van haar gehou en sy was avontuurlustig. Sy het alles uit die lewe gehaal,” sê Erasmus.

Sy sou nooit kon raai toe sy Donderdagoggend by haar vriendin se restaurant ingeloer het, dat dit die laaste keer sou wees wat hulle mekaar sien nie.

“Sy het ook altyd saam met my kleinkinders gekuier as hulle daar gaan eet het en hulle moed ingepraat vir hul studies,” sê Erasmus.

Hettie het haar in 2011 aangesluit by Lizette ná haar man se dood, en amper dadelik betrokke geraak by die restaurant-onderneming.

Volgens Van Staden was Hettie eintlik afgetree, maar sy kon nie net stilsit nie. “Sy was self ook ’n formidabele bestuurder by Ackermans in haar jare op Klerksdorp,” sê Van Staden. Sy onthou hoe Hettie getrou elke oggend eers saam met haar personeel die dag met skriflesing en gebed begin het.

Hettie en Lizette het ook saam rolbal gespeel. Lizette was veral lief vir sport, sê haar twee vriendinne. Sy het uitgeblink in tennis en was vanjaar die tweede beste vrouerolbalspeler in Limpopo.

“Hul was albei sportmal en het enige geleentheid aangegryp om ’n kaartspelaand te reël,” sê die Deacon-familie.

Quinton Deacon, Lizette se broer, en sy vrou, Christa, woon in Melkbosstrand en het Vrydag inderhaas na Polokwane gevlieg toe hulle van die moorde hoor. Christa is die mede-eienaar van die restaurant Mozambik in die V&A Waterfront in Kaapstad.

Lizette en Hettie is nou daar in die hemel en as hulle vir ons ’n boodskap sou stuur, sou dit wees om nou net aan God vas te hou.

Hulle was nie deel van die optog toe sowat 500 mense in die strate buite die Mall of North betoog het nie. Blomme is voor die restaurant in die Mall of the North neergesit, het Marietie Louw-Carstens berig.

“Lizette en Hettie is nou daar in die hemel en as hulle vir ons ’n boodskap sou stuur, sou dit wees om nou net aan God vas te hou,” sê Van Staden.

Die Deacon-familie sê ’n gedenkdiens sal Dinsdag gehou word in die NG kerk Pietersburg-Noord om 11:00. Erasmus sal die orrelbegeleiding verskaf en haar man, ds. Dopper Erasmus, sal die diens behartig. Die diens sal ook aanlyn gevolg kan word.

“As dit nie was vir die Covid-19-beperkings nie, sou daardie kerk Dinsdag stampvol gewees het,” sê Erasmus.

• Twee mans is Sondag gearresteer vir die dubbele moord op Lizette en Hettie.

’n Zimbabwiër (35) is omstreeks 03:00 Sondagoggend in Mookgophong in hegtenis geneem, gevolg deur ’n tweede man wat later in Polokwane aangekeer is, berig Marietie Louw-Carstens.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sal albei Dinsdag in die landdroshof in Polokwane verskyn. Daar word na nog verdagtes gesoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.