Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sakevrou se lyk in kar in Pietermaritzburg gekry

Die polisie ondersoek die moord op ’n bekende sakevrou van Pietermaritzburg, wie se lyk Maandag in ’n motor gevind is.

Die polisie vermoed dat die 41-jarige Kavitha Nerputh, ’n ma van drie, verwurg is.

Kavitha NerputhFoto: Facebook

Kol. Thembeka Mbele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê iemand het omstreeks 19:30 in Alexandra Park afgekom op die motor en die polisie gebel. Die deure van die motor was gesluit.

Nerputh was in 2017 in die nuus nadat sy sowat R100 000 opgedok het om die vierde verjaardag van haar dogter, Zia, te vier. Die partytjie is gehou in die Sunnylea-voorbereidende skool, waar al Zia se klasmaats die partytjie kon meemaak.

Nerputh was die bestuurder van die onderneming Forever Well Tea, wat hoofsaaklik verslankingsprodukte verkoop. Medelye het deur die loop van Dinsdag op haar Facebook-blad gestroom.

“Ek is verskriklik hartseer om die tragiese nuus te hoor. Sy is ’n wonderlike en mooi persoon wat te vroeg weggeneem is,” skryf Ashika Pillay.

Ami Gee beskryf haar dood as hartverskeurend. “Rus in vrede, mooie Kavitha. Ons het net kort gepraat, maar sy het ’n groot indruk met haar intelligensie en warmte gemaak.”

In haar laaste inskrywing op haar Facebook-blad het Nerputh oor onder meer haar liefde vir haar familie geskryf. Hulle kon nie Dinsdag vir kommentaar bereik word nie.

Nerputh het die onderneming Forever Well Tea bestuur. Foto: Facebook

“Geluk hou jou soet, verdriet hou jou menslik, die lewe hou jou nederig, sukses laat jou gloei, die liefde van jou familie hou jou doelgerig en God help jou om vorentoe te beweeg,” het sy op 12 Januarie geskryf.

Mbele sê die polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie.

Imbali Funeral Furnishers, wat Nerputh se gedenkdiens behartig, het op sy Facebook-blad geskryf dat haar oorskot Woensdag in die Aryan-saal in Khanweg, Raisethorpe, besigtig kan word voordat dit na die Cedar Ridge-krematorium geneem sal word.

The Witness berig die landdroshof in Pietermaritzburg het verlede jaar ’n hofbevel toegestaan wat Nerputh se gewese vriendin Yugeshnie Reddy verbied om haar te teister.

Die hof het bevind dat Reddy verskeie vals profiele op Facebook geskep het en Nerputh daarop beledig het.

Meer oor:  Pietermaritzburg  |  Ondersoek  |  Lyk  |  Verwurg  |  Motor  |  Gevind  |  Moord  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.