Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sakevrou se man in hegtenis vir haar huurmoord in Polokwane

Die man van een van die sakevroue wat twee weke gelede in Polokwane in ’n oënskynlike huurmoord doodgeskiet is, is saam met nog vier mans vroeg Donderdagoggend aan die Oos-Rand in Gauteng in hegtenis geneem.

Die rooi Hyundai Accent wat glo gebruik is as wegkommotor na die dubbele moord op twee sakevroue in Polokwane.Foto: SAPD

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die 56-jarige man is Donderdagoggend in ’n hospitaal in Gauteng in hegtenis geneem, nadat hy glo probeer het om sy eie lewe te neem.

Netwerk24 verneem hy het glo gif gedrink.

Tebogo Mphuti (35), wat sakebelange in die konstruksiebedryf gehad het en Makoena Mabusela-Leshabane (46), ’n senior finansiële lugvaartkonsultant by Investec in Midrand, is Saterdagoggend 10 Oktober in Zunestraat in die industriële gebied in Polokwane doodgeskiet.

Van die wapens wat glo gebruik is in die moorde op twee sakevroue in Polokwane. Foto: SAPD

Hulle was op ’n sakebesoek aan Polokwane en het in ’n luukse swart Mercedes-Benz gesit voor ’n pakhuis wat hulle glo wou koop. Hulle het gewag vir die eiendomsagent wat hulle die pakhuis sou wys.

Drie mans het uit ’n rooi Hyundai Accent gespring en etlike skote op hulle geskiet voordat hulle weer in die motor gespring en weggejaag het.

Daar is niks by die twee vroue gesteel nie. Kringtelevisiemateriaal by die pakhuis het gewys hoe die mans in die rooi Hyundai Accent wegjaag.

‘n Wapen wat glo gebruik is in die vermeende huurmoorde op twee sakevroue in Polokwane. Foto: SAPD

Mojapelo sê speurders van die polisie in Limpopo het nou saam met die provinsiale opsporingspan gewerk in ’n goed gekoördineerde klopjag wat by etlike huise in Katlehong, Elsburg en Germiston, uitgevoer is.

Die rooi Hyundai Accent wat glo gebruik is op die dag van die moord is by een van die huise gekry.

Kringtelevisiebeeldmateriaal wys die rooi Hyundai Accent wat glo gebruik is in die skietdood van twee sakevroue in Polokwane. Foto: SAPD

Die polisie het ook op twee vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Mabusela-Leshabane is ’n boorling van Limpopo en ’n ma van vyf kinders. Luidens Investec se webtuiste het sy daaraan geglo om ander mense se lewens positief te beïnvloed. Sy het ook skooltasse en skoene vir arm gemeenskappe in Limpopo geskenk.

Makoena Mashubela-Leshabane (46) is in Polokwane doodgeskiet. Foto: Verskaf
Tebogo Mphuti (35), die ander vrou wat doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Sy was goeie vriende met Mphuti.

Die vyf verdagtes is tussen die ouderdom van 25 en 56 jaar oud en sal Maandag in die landdroshof in Polokwane verskyn.

Die luukse swart Mercedes Benz waarin twee sakevroue in Polokwane koelbloedig doodgeskiet is. Foto: SAPD


Meer oor:  Tebogo Mphuti  |  Makoena Mabusela-Leshabane  |  Gauteng  |  Limpopo  |  Polokwane  |  Moord  |  Polisie  |  Huurmoord  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.