Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het die twee mans geïdentifiseer wat Maandag in Worcester deur polisielede met ’n sambok geslaan is.
Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het Donderdag gesê die mans het ’n klag by die Worcester-polisie oor die voorval ingedien.
Cola sê hulle het die polisielede, glo verbonde aan die teenbende-eenheid in Worcester, ook geïdentifiseer.
Volgens haar duur die ondersoek na die voorval voort.
Intussen het Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, die insident, waarin die twee mans onder meer in die gesig geklap en met ’n sambok geslaan is, veroordeel.

Die polisieman met die sambok in sy agtersak deursoek een van die mans. Foto: Skermgreep

Sy kollega haal hier die sambok uit sy agtersak. Foto: Skermgreep

Hier hou hy die sambok gereed om te slaan. Foto: Skermgreep

Die eerste sambokhoue val. Foto: Skermgreep
Die voorval het Maandag in Worcester se nywerheidsgebied gebeur en is op video vasgelê waarna dit op sosiale media versprei is.
Fritz sê hy verwelkom die polisieondersoek, maar dat hy die optrede van die polisiebeamptes ten sterkste veroordeel. Hy hoop dat die ondersoek meer lig sal werp op wat gebeur het.
Volgens Fritz gaan hy vir die verslag van die polisieondersoek vra sodra dit afgehandel is om, indien dit nodig sou wees, die slagoffers met regstellende aksie te help sou hulle dit verlang.
Hy sê dit is belangrik vir die inwoners van die Wes-Kaap om te weet dat hulle op die polisie kan staatmaak om hul veiligheid te verseker en dat die “wangedrag” van ’n paar beamptes dit nie moet ondermyn nie.
Op die video kan gesien word hoe drie polisielede die mans klap en met ’n sambok slaan, klaarblyklik omdat hulle nie maskers op hul gesigte het nie.
In die video kan gesien word hoe twee polisielede twee jonger mans teen ’n polisievangwa staan maak en deursoek.
Aan die ander kant van die vangwa staan ’n polisievrou. Op die video kan gesien word hoe sy haar hand lig en iemand klap.
Die een polisieman vra dan die een man waar sy masker is. Hulle maskers hang om hul nekke.
“Waar’s jou masker, waar’s jou masker?” vra die polisieman en klap dan die jong man, wat sy masker baie haastig opsit, herhaaldelik deur die gesig.
Die polisieman het ’n sambok in die agtersak van sy uniform.
Sy kollega ruk die sambok uit en begin dan ’n tweede man daarmee slaan. Die mans kry kans om te vlug.
Die polisie het onmiddellik die voorval begin ondersoek nadat hulle daarvan te hore gekom het.