Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sanger op plaas op bekende wynroete doodgeskiet

’n Bekende in plaaslike musiekkringe is Vrydagnag in die Robertson-distrik buite Worcester in die Wes-Kaap in sy huis op ’n plaas doodgeskiet.

Volgens Thomas van Dalen, AfriForum se Wes-Kaapse koördineerder, het Wynand Breedt saam met sy lewensmaat op Fleury Farm langs die Nuy-wynkelder op die bekende R62-wynroete gewoon.

Wynand Breedt, sanger en liedjieskrywer, is in sy huis doodgeskiet. Foto: Facebook

“Ons het bitter min inligting oor wat gebeur het. Niemand antwoord in dié stadium Breedt se selfoon nie. Sy suster is nog op pad plaas toe,” het Van Dalen Saterdagoggend gesê.

Die polisie volg leidrade op oor die presiese omstandighede, sê sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder.

Sy sê die polisie ondersoek ’n moord, maar kan nie in dié stadium sê of dit deur ’n plaasaanval voorafgegaan is nie.

Sy sê die speurders van Worcester in wie se gebied dit val, ondersoek ’n moordsaak.

“Die polisie het gereageer op ’n voorval wat Vrydagnag om 22:30 op ’n plaas in die Worcester/Robertson-distrik in die Boland gebeur het.”

Sy sê volgens inligting het iemand wat in die huis saam met Breedt was, die polisie gekontak.

Toe hulle daar aankom, het 'n 45-jarige man se lyk op die grond gelê. Hy is in die bors geskiet.”

Sy sê die motief vir die skietvoorval is in dié stadium onbekend.

“Ons kan nog nie sê of dit ’n plaasaanval was nie. Ons polisiedossier wys nie dat iets uit die huis gesteel is nie.”

Die polisie volg leidrade op om diegene wat verantwoordelik is vir sy dood, aan die pen te laat ry, sê sy.

Breedt was ’n sanger en liedjieskrywer. Hy was ook ’n musiekonderwyser by die Lanner House School in Worcester.

Volgens Breedt se Facebook-blad was hy ’n passievolle sanger wat in die noordelike voorstede van Kaapstad grootgeword het.

Daar word ook geskryf dat sy musiekloopbaan op die jong ouderdom van agt begin het toe hy as eerste sopraan begin sing het.

Hy was lid van verskeie kore, insluitend die Tygerberg Kinderkoor.

Hy het as eerste sopraan by die Kaapse Jeugkoor aangesluit as 15-jarige, maar het vinnig in ’n bas verander.

So is “Mr Bass-man” gebore.

Wynand Breedt was ’n bekende in plaaslike musiekkringe. Foto: Facebook

“Dit het hom nuwe geleenthede gebied om private sangklasse te neem en sodoende ook sy sangloopbaan op dreef te kry deur deel te neem aan musiekproduksies soos onder meer Jukebox Mania.”

In die daaropvolgende jare het hy homself stewig in die bedryf gevestig en gereeld voor gehore as hoofsanger of saam met groepe opgetree.

Ná etlike jare het hy hom as musiekonderwyser bekwaam. Sy fokus was om beginner-sangstudente op te lei. Dit het gelei tot die ontstaan van “Wynand’s Music Studio”.

Dit het hom net verder gemotiveer om sy jarelange droom na te streef om sy eie CD uit te reik.

Hy kon sy droom bewaarheid nadat hy Riaan Steyn van Traxtudio ontmoet het.  Sy eerste album, Gee my een wens, is uiteindelik uitgereik.

Worcester Standard het berig sy tweede CD, Nes jy is, is in 2018 uitgereik.

Die polisie vra dat mense met inligting hulle bel by 021 417 7587 of 071 604 8321.

Meer oor:  Wynand Breedt  |  Wes-Kaap  |  Robertson  |  Misdaad  |  Doodgeskiet  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.