Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SANW hoor van geld voor hy Vlakte binnery

Die weermag het dié week agter die skerms eers seker gemaak dat sy soldate nie ’n tree gee voordat pres. Cyril Ramaphosa die voorwaardes vir die operasie goedgekeur het of toegewings oor wie daarvoor gaan betaal, gemaak het nie.

Soldate in Blikkiesdorp, Delft. Foto: Edrea du Toit

Die soldate is uiteindelik eers Donderdag ontplooi nadat Ramaphosa in ’n brief aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, bevestig het dat 1 320 soldate ontplooi word, dat die operasie tot 16 September sal duur en net meer as R23 miljoen sal kos.

Donderdagmiddag is die soldate, toegerus met koeëlvaste baadjies, gevegshelms en wapens in Mamba- en Casspir-troepedraers geesdriftig toegejuig deur inwoners van Manenberg. Vrydag was hulle in Blikkiesdorp in Delft en gistermiddag in Mitchells Plain.

Volgens Rapport se bronne sal net die rantsoene vir die beoogde drie maande lange ontplooiing op die Vlakte nagenoeg R10 miljoen kos. Dit is sonder die koste vir diesel, gevaartoelaes en logistieke ondersteuning.

Soldate gebruik skerppunt- ammunisie.

Die weermag het nie vir die Vlakte-ontplooiing begroot nie.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, woordvoerder, het Vrydag aan Rapport gesê die weermag se rol is om die polisie te ondersteun om kalmte te bring en die belhamels uit te rook wat gemeenskappe terroriseer.

Bishop Lavis, Mitchells Plain, Delft, Elsiesrivier, Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Philippi en Kraaifontein is saam met Manenberg van die gebiede waar die hoogste getal moorde en bendeverwante skietvoorvalle gebeur.

In Manenberg. Foto: Jaco Marais

Afgesien van die koste vir die ontplooiing en die vraag of die weermag daarvoor vergoed gaan word, het die weermag aangedring dat sy soldate met skerppunt-ammunisie hul patrollies doen, terwyl die polisie glo minimum geweld wou gebruik. Volgens ’n senior offisier is die weermag nie toegerus om onlustebeheer te doen nie. Soldate gebruik dus hul aanvalsgewere en standaard-ammunisie.

Dit was Donderdag opmerklik dat daar hier en daar van die soldate was wat wel met haelgewere met sagtepunt-ammunisie toegerus is. Die res het R4-aanvalsgewere gehad.

Mgobozi het gesê soldate gaan nie rubberkoeëls gebruik nie, maar die polisie wel.

Volgens Rapport se bronne wou die weermag die versekering hê dat sy soldate nie vervolg sou word as onskuldiges in die spervuur beland in die geval van ’n konfliksituasie nie.

In Lost City, Mitchells Plain. Foto: Edrea du Toit

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het in haar begrotingsrede gewaarsku dat die verdedigingsbegroting onvoldoende is om die weermag te onderhou.

Die huidige begroting is R50,5 miljard, in vergelyking met die 2018-’19-begroting van R47,9 miljard en 2017-’18 se begroting van R48,9 miljard.

“Die regering en die land moet besluit watse weermag hy wil hê en dan dienooreenkomstig betaal daarvoor. Ons kan slegs ontplooi as daar geld daarvoor is,” het sy gesê.

Al die opposisiepartye het in hul repliek op haar rede haar betoë vir beter finansiering van die verdedigingsbegroting gesteun.

Meer oor:  Delft  |  Nyanga  |  Bishop Lavis  |  Mitchells Plain  |  Manenberg  |  Kraaifontein  |  Khayelitsha  |  Elsiesrivier  |  Philippi  |  Bendes  |  Kaapse Vlakte  |  Weermag  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.