Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
SANW, polisie gaan nou hul mag laat geld op Kaapse Vlakte

“Suid-Afrika is nie ’n piesangrepubliek nie.”

Bheki Cele, minister van polisie, genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, en lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke. Foto: Maygene de Wee
Netwerk24Foto: Maygene de Wee

Dit was Dinsdag die woorde van genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandag aangekondig het dat hy die verlenging van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se ontplooiing in woonbuurte op die Kaapse Vlakte goedgekeur het.

Sitole het gesê die eerste been van die ontplooiing van die SANW in die bendegeteisterde gebiede, wat Maandag tot ’n einde gekom het, was om die woonbuurte te stabiliseer.

Hy het gesê hulle het besef dat die strategie nie werklik werk nie. Met die tweede been van die ontplooiing, vir ses maande tot 31 Maart 2020, gaan die polisie en die SANW hul gesag laat geld.

“Ons wil dit ook duidelik maak dat ons sekerheidsmagte hier is. Ons wil ’n boodskap uitstuur. Die is nie ’n piesangrepubliek nie.”

Sitole sê die plan is om gemeenskappe weer soos normaal te laat funksioneer, en dat hulle na basiese polisiëring gaan terugkeer. “Ons gaan kyk na misdadigers se modus operandi, met die doelwit om die strategiese misdadigers, die mense wat die planne beraam, aan te keer.”

Hulle gaan ook nou begin om hulpbronne by polisiekantore te plaas wat dit nodig het, sodat wanneer die gemeenskappe na normaal terugkeer die hulpbronne reeds daar is.

Bheki Cele, minister van polisie, het gesê die verlenging van die SANW se ontplooiing is nie omdat mense aan hom of aan wie ook al geskryf het nie. “Niemand se wens is beantwoord nie.”

Hy het gesê hulle het altyd geweet dat twee maande te kort sou wees om werklik ’n impak te maak. Die situasie op die Kaapse Vlakte is volgens hom maandeliks en weekliks hersien.

“Ek en genl. Sitole het elke Maandag en Dinsdag na Kaapstad gevlieg om die situasie te beoordeel. Ons het besef dat ons nie die impak het wat ons veronderstel was om te hê nie.”

Ons het besef dat ons nie die impak het wat ons veronderstel was om te hê nie.

Volgens Cele het hy en die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, verlede Donderdag met hul generale vergader en vir hulle gesê om hulle deur die proses te vat. “En dit was nie omdat iemand ’n brief of nie ’n brief geskryf het nie, omdat mense sê dat hulle opdragte gegee of nie gegee het nie, dit was omdat ons besef het dat ons die proses moet herbesoek.”

Ná die beraadslaging met die generaals het Cele ’n brief aan die minister van verdediging geskryf. Mapisa-Nqakula het op haar beurt weer aan die president geskryf met ’n versoek om die verlenging van die ontplooiing van die SANW te oorweeg.

“Die president het na al die inligting gekyk en op grond hiervan ’n besluit geneem,” het Cele gesê.

“Daar is net een kantoor, een kantoor alleen wat die besluit kan neem, maak nie saak of die media jou lof besing nie.”

Navrae oor wat dit die weermag gaan kos om tot einde Maart in die Wes-Kaap ontplooi te wees, is aan Siphiwe Dlamini, die weermag se kommunikasiehoof, gestuur. Dit sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Sanw  |  Polisie  |  Cyril Ramaphosa  |  Kaapse Vlakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.