Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Sapu: Bring polisie se spesiale eenhede terug

Die herinstelling van die polisie se spesialiseenhede is die enigste manier om veral hoëprofielmisdadigers vas te trek; nie “onrealistiese” spertye óf nuwe taakspanne nie.

Dit is die mening van die polisievakbond Sapu. Hy het Donderdag ’n pleidooi aan genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, en sy topbestuur gerig om dit ernstig te heroorweeg om die spesialiseenhede terug te bring, veral omdat misdadigers die polisie tans “een voor is”.

Genl. Khehla SitoleFoto: DEAAN VIVIER

Die eenhede is destyds deur wyle Jackie Selebi, toe nog nasionale polisiekommissaris, ontbind en lede daarvan is op polisiekantoorvlak ontplooi om hul vaardighede daar aan te wend.

Oscar Skommere, sekretaris van Sapu, het Donderdag gesê Sapu maak gereeld voorspraak vir die herinstelling van spesialiseenhede omdat die ontbinding daarvan ’n “verskriklike en duur fout” was.

Sapu is volgens hom ook diep ontsteld oor die spertye wat Sitole deesdae dikwels aan ondersoekers gee om verdagtes in hoëprofielsake aan te keer.

Die vakbond verwys hier na Sitole se jongste spertyd waarin hy polisiebeamptes 72 uur gegee het om die verdagtes aan te keer wat die afgelope naweek Gautengse taxibestuurders in KwaZulu-Natal doodgeskiet het. Die spertyd is nie gehaal nie.

“Die spertyd is verby, maar die vraag is wat volgende gaan gebeur,” sê Skommere.

Sapu is verder gekant teen die stigting van taakspanne om hoëprofielsake te ondersoek omdat dít dit “duidelik maak dat die ontbinding van spesialiseenhede ’n taktiese fout was.

Oscar SkommereFoto: VERSKAF

“Die taakspanne en spertye is ’n mors van hulpbronne en beperkte fondse. Die polisiebestuur moet hul trots sluk en erken dat die ontbinding van gespesialiseerde eenhede teenproduktief is.”

Volgens Skommere is daar ook geen vordering in die moordondersoek van Senzo Meyiwa, die Suid-Afrikaanse sokkerkaptein wat in 2014 in Gauteng vermoor is, nie al is ’n taakspan daarvoor aangestel.

Sapu glo die enigste wyse hoe sulke sake opgelos kan word, is as die spesialiseenhede, soos dié van moord-en-roof, heringestel word.

“Misdaad vind op grondvlak plaas en dit is waar die polisie die meeste benodig word. Lede van die taakspanne kla oor onbehoorlike druk wat op hulle geplaas word om verdagtes in hegtenis te neem.”

Skommere het bygevoeg dat dit ook blyk dat Sitole vir “die gehoor speel” met sy onrealistiese spertye, maar sê hy is ’n goeie leier en een wat foute erken en regstel.

Hy glo dit is nog nie te laat om die spesialiseenhede terug te bring nie omdat dit die polisie se dienslewering sal verbeter. “Ons kan nie bekostig dat misdadigers ons een voor is nie.”

Sapu het ook die swak stand van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid betreur. “Ons waardeer die aanstelling van die nuwe hoof van misdaadintelligensie (lt.genl. Peter Jacobs), maar sy vordering moet nog gesien word.

“Dit blyk dat misdaadintelligensie ’n slapende reus is wat moet wakker skrik omdat die land tans aan die brand is.”

Meer oor:  Sapu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.