Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Schweizer-Reneke: Bejaarde in tehuis vermoor

Die polisie ondersoek die moord op ’n 83-jarige vrou in haar woonstel in die Silwerjare-tehuis vir bejaardes in Schweizer-Reneke, Noordwes.

Die vermoorde Jeanette van Wyk (83) is die skoonma van Margaret van Wyk van dieselfde dorp wat bekendheid verwerf het toe sy per ongeluk ’n baie private foto op ’n Whats­App-groep vir hokkie-ouers gedeel het.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, sê Van Wyk is Sondagoggend dood op die vloer van haar woonstel gevind met geen sigbare beserings nie – “net bloedspatsels om haar mond”.

“Die venster (van haar woonstel) is gebreek,” sê Tselanyane.

Hy sê daar is nog nie bepaal onder watter omstandighede sy vermoor is nie. Niemand is al in verband met die voorval aangekeer nie.

Hulle vermoed die verdagte het onderdeur die tehuis se palissade geklim en by haar ingebreek.

Volgens ’n bron ná aan die saak is Van Wyk moontlik Saterdagaand tussen 19:00 en 22:00 vermoor.

Die bron sê Van Wyk het Saterdagaand om 19:00 nog op die tehuis se roepradio ingeskakel. Toe sy egter nie Sondagoggend om 08:00 inskakel nie, is ondersoek ingestel.

“Hulle vermoed die verdagte het onderdeur die tehuis se palissade geklim en by haar ingebreek. Volgens onbevestigde inligting is sy verwurg. Haar lippe was blou en daar het ’n vadoek langs haar lyk gelê,” sê die bron.

Volgens die bron is ’n item gesteel. As bekend gemaak word wat dít was, kan dit egter die ondersoek beïnvloed.

Tselanyane sê dit lyk asof iets of iemand die verdagte(s) die skrik op die lyf gejaag het, want hulle het gevlug en ’n vol sak inkopies wat reeds ingepak was, net so in die woonstel gelos.

Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, het die moord as “sinneloos” beskryf en gesê dit is deur “lafhartige mense” gedoen.

Matrone Lon Seyffert van die tehuis kon nie Sondag dadelik vir kommentaar bereik word nie.

* Dit is die tweede moord by dié tehuis. Die eerste moord, glo met ’n skêr, was langer as ’n dekade gelede. Die tehuis is deel van NG Welsyn Noordwes en Gauteng, die NG kerk se welsynsafdeling in Noordwes, asook die Vaaldriehoek en die Wes-Rand in Gauteng.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.