Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Secunda-gesinsmoord: Só kom beampte op skoktonele af

Die Secunda-gemeenskap is steeds geskok oor ’n grusame gesinsmoord op dié dorp.

Dit volg nadat ’n veiligheidsbeampte die toneel van ’n beweerde gesinsmoord vroeg Vrydagoggend in Secunda in Mpumalanga ontdek het.

Die polisie is na die toneel ontbied waar die lyke van Carl Andries Naudé (50), sy vrou, Lizelle Naudé (52), hul seun, Henko Naudé (17), en Carl se ma, Fredrica Christina Naudé (83), gevind is.

Andries Lee, van Roman Alarms, is aangesê om te gaan kyk of alles pluis is by die Naudé-huis nadat Lizelle, ’n onderwyseres aan die Laerskool Marietjie vir kinders met spesiale behoeftes, Vrydagoggend nie opgedaag het vir werk nie.

Sy het ook nie haar selfoon beantwoord toe die skool haar in die hande probeer kry nie.

Henco (17) en sy ma, Lizelle Naudé (52) Foto: Facebook

By die huis aangekom was dit stil, maar Lee kon by die huis inkom waar hy op grusame tonele afgekom het.

Fredrica se lyk het in die eerste vertrek van die huis gelê met ’n skietwond in haar linkerslaap. In die tweede kamer is die lyke van Lizelle en Henko op die bed gekry. Hulle het albei ook skietwonde in die linkerslaap gehad.

In die hoofslaapkamer het Lee afgekom op Andries se lyk waar hy in ’n plas bloed gesit het. Hy het ’n skietwond in sy mond gehad en langs hom het ’n 9 mm-pistool gelê.

Kapt. Gerhard Elmes, polisiewoordvoerder van Secunda, sê drie sake van moord op die twee vroue en seun word ondersoek. ’n Geregtelike doodsondersoek na Andries se dood is begin.

Elmes het bevestig dat Henko, ’n parapleeg, ’n leerling aan die Hoërskool Secunda was.

Sy alma mater, die Laerskool Trichardt, het sy hartseer oor die dood van dié oudleerling in ’n Facebook-inskrywing op hul blad gedeel.

“Ons harte is stukkend oor die verlies van ’n gesin . . . Een van ons oud-leerders Henko Naudé!” lui die inskrywing, met ’n foto van Henko en sy ma daarby.

Mense het hul meegevoel en met en herinneringe aan die gesin in die kommentaar gelewer.

Sophia van der Erwe skryf: “Henko het altyd vir kinders gewys daar waar ’n wil is, is daar ’n weg.”

“Sjoe kon dit nie glo nie. So baie sterkte aan naasbestaandes. Henko, jy het so baie kinders en mense se harte aangeraak. RIP. Jy en mamma gaan vir seker baie gemis word,” skryf Elma Gobey.

’n Gedeelte van Altha Visser se inskrywing lui: “Ek kan nog soos gister onthou toe ek jou klaskamer ingestap het met my prinses in jou klas. Ek onthou ook die vele trane van bekommernis as Henko die vorige nag ’n slegte nag gehad het. Maar nooit sou ek die skok en hartseer verwag wat ek vandag beleef het nie.

“RIP Lizelle en Henco, julle sal altyd in ons gedagtes bly voortleef.”

Die begrafnisreëlings is nog nie bekend gemaak nie.

Meer oor:  Secunda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.