Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Seesig-grumoord: Vriendin probeer haar vergeefs in hande kry

“Lynette was te goed vir hierdie wêreld. Sy is ’n lig in ons lewe wat nie nou dowwer gaan skyn nie, maar helderder.”

Lynette Volschenk (32). Foto: Instagram

So beskryf ’n lewenslange vriendin van die vermoorde Lynette Volschenk (32) dié geliefde vrou van Velddrif aan die Weskus wie se lyk Donderdag in stukke opgesny in die Seesig-woonstelgebou in Bellville aangetref is.

Yolande Tolken, ook van Velddrif, het Vrydag vertel sy het Volschenk Woensdag in die hande probeer kry en het gesien sy was die middag om 16:45 laas op WhatsApp.

Tolken het Volschenk se ma, Jeanette, Donderdagoggend gebel en gesê sy kry haar nie in die hande nie. Hulle het eers vermoed Volschenk is dalk druk besig met haar studie. Tolken het vergeefs aanhou probeer om Volschenk in die hande te kry.

Tolken wil nie eens dink aan of veel sê oor wat met haar vriendin gebeur het nie.

“Lynette was baie privaat. Sy was ook baie veiligheidsbewus,” sê Tolken.

’n Familielid van die Volschenks, wat gevra het om anoniem te bly, het Vrydag gesê die slagoffer se ouers, Christie en Jeanette Volschenk, is uiters getraumatiseer. Die egpaar woon op Velddrif.

“Sy sou nie ’n vlieg skade aandoen nie. Sy was ’n baie stil en eenkant mens,” sê die familielid.

Sy het as tekenaar by die Lyners-ingenieursfirma in die Tygerwaterfront in Durbanville gewerk.

Lynette Volschenk (32). Foto: Instagram

John Africa, wat Lyners se korporatiewe sake hanteer, het Vrydag gesê Volschenk se kollegas was te getraumatiseer om te gaan werk. Hy het bevestig dat Volschenk ’n tekenaar in die maatskappy se elektriese-ingenieursdepartement was.

Intussen het 1 600 mense teen Vrydagmiddag 16:00 ’n petisie op die webblad Change.org onderteken dat Volschenk se vermeende moordenaar nie borgtog moet kry nie.

“Teken asseblief die petisie . . . Die persoon wat beskuldig word van hierdie haatlike en grusame misdaad mág nie borgtog kry nie. Kom ons staan saam om aan die regering te sê genoeg is genoeg,” lui die versoek by die petisie.

Volschenk is deur die bank as vredeliewend en ’n liefdevolle, sagte mens beskryf deur almal wat om kommentaar genader is.

Boodskappe van medelye met Volschenk se familie en vriende het Donderdag ingestroom.

Haar swaer, Francois le Roux, wat met haar suster, Crystal, getroud is, skryf: “Die vlam wat twee keer so hoog gebrand het, het die helfte so lank gebrand.”

Hy skryf dat die gesin ’n paar dae lank nie enige oproepe of boodskappe sal beantwoord nie.

“Ons moet daarop fokus om ons hart heel te maak.”

In ’n boodskap aan Volschenk skryf hy: “Aan my suster. Ons is lief vir jou, Netta. Jy is vroeg weggeneem, maar ons sal jou binnekort sien.”

Die petisie wat mense onderteken teen die moontlikheid dat Lynette Volschenk (32) se vermeende moordenaar op borgtog vrygelaat kan word. Foto: Change.org
Lynette Volschenk (32) se laaste boodskap op Facebook. Foto: Facebook

’n Inwoner van Velddrif skryf op Facebook: “Ons Velddrif-dorp is geruk deur haar wrede dood. Xxx”

Nog ’n boodskap lui: “Ek sal altyd jou lag onthou. Jy was so ’n goeie opregte, eerlike en dierbare mens. Dit voel unreal . . . Ons gaan jou glimlag baie mis.”

’n Vorige buurvrou skryf: “Die nuus het my so geruk, kan dit nie glo nie, twee jaar terug was ons bure en het ons saam koffie gedink. Dit is so hartseer en onwerklik, jy het so baie mense se lewe aangeraak. Sterkte aan familie en vriende. R.I.P.”

Volschenk se laaste inskrywing op Facebook was Woensdagoggend om 06:47. Sy het dié woorde van die kunstenaar Frida Kahlo aangehaal: “Aan die einde van die dag kan ons baie meer verduur as wat ons dink ons kan.” Volschenk se lyk is Donderdag in die Seesig-woonstelgebou in Loevenstein, Bellville, gekry. Sy is vermoedelik in haar woonstel op die tiende verdieping vermoor, waarna haar lyk in stukke opgesny is.

Haar liggaamsdele is in die woonstel van ’n man op die negende verdieping gekry. ’n 24-jarige man is Donderdag weens die voorval in hegtenis geneem.

Meer oor:  Yolande Tolken  |  Lynette Volschenk  |  Velddrif  |  Bellville  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.